Broers dra Volkies deur teen Gimmies

Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan sal nie sommer die afgelope week vergeet waar hulle vir Potchefstroom Gimnasium in twee agtereenvolgende wedstryde beide tuis en weg geklop het nie. Volkies se Eerstes het Saterdag ‘n skrale 2 paaltjie oorwinning teen hul teenstanders behaal in ‘n Finsbury-ligawedstryd wat verskeie kere in altwee spanne se guns was. …

Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan sal nie sommer die afgelope week vergeet waar hulle vir Potchefstroom Gimnasium in twee agtereenvolgende wedstryde beide tuis en weg geklop het nie.

Volkies se Eerstes het Saterdag ‘n skrale 2 paaltjie oorwinning teen hul teenstanders behaal in ‘n Finsbury-ligawedstryd wat verskeie kere in altwee spanne se guns was. Dit het weer soos ‘n naelbytstryd gevoel voordat Cobus Crowther die wenlopies vir Volkies geslaan het. Sy broer en Volkies se kaptein, David Crowther, het ook ‘n briljante 92 van 90 balle gemoker om sy skool op die wenpad te sit.

David sou wel sy naels teen die einde begin kou het met sy span wat so amper die pot mis gesit het deur 5 paaltjies vir 50 lopies te verloor.

Die tradisionele stryd het begin met Gimmies wat eerste kolf en 23 lopies geslaan het voordat Jacques Bouwer van beide Francois van Deventer en Anton Prinsloo ontslae geraak het. Cobus Crowther (3/36) het ook verder duike gemaak toe hy in twee agtereenvolgende balle vir Jooste Fourie en Herman de Jong skoongeboul het. Gimmies was in ‘n penarie op 26/4, maar Pierre Botma (70) en Marco Jansen (37) het weer balans gehandhaaf met stewige kolfwerk in ‘n 105 lopie vennootskap. Volkies se kaptein het wel met ‘n briljante direkte gooi vir Jansen na die pawiljoen gestuur en met voorbeeld gelei.

Kort daarna was Gimmies weer in die moeilikheid op 145/7, maar Duan Jansen en Vernon Charslund het sake beredder met ‘n 74 lopie vennootskap. Gimmies eindig op 223/8 na 50 boulbeurte. In Volkies se beurt was Ruan von Abo (40) en David die steunpilare met ‘n professionele 124 lopie vennootskap.

Divan Mienie (3/49) en Marco Jansen (3/31) was die uitstaande boulers vir Gimmies en met gereelde paaltjies wat val het hul nog ‘n kans gehad om die kastaaiings uit die vuur te krap. Cobus Crowther het wel sy broer se goeie werk voortgesit en met ‘n kalm 19 van 27 balle vir Volkies oor die lyn gedra.

 

*Volkies is onoorwonne in die B-liga en beklee eerste plek. Hulle speel komende Saterdag uit teen Dr.EG Jansen in ‘n promosie/relegasiewedstryd om op te skuif na die A liga.

 

Exit mobile version