SportSport

Pukke Prestasiemeter

Rondte 2: Pukke teen UJ op die Fanie du Toit Sportterrein (UJ wen 36-31) 15 – Rhyno Smith (7/10) Hierdie was nie Smith se beste wedstryd nie. Hy het sy oomblikke op die aanval en met sy skopskoen gehad, maar dit was nie akkuraat genoeg om met UJ se uitstekende skopwerk mee te ding op …

Rondte 2: Pukke teen UJ op die Fanie du Toit Sportterrein (UJ wen 36-31)

15 – Rhyno Smith (7/10)

Hierdie was nie Smith se beste wedstryd nie. Hy het sy oomblikke op die aanval en met sy skopskoen gehad, maar dit was nie akkuraat genoeg om met UJ se uitstekende skopwerk mee te ding op die aand nie. Hy het ook ’n paar keer die bal verloor en was soms geïsoleer op die aanval.

14 – Lucian Cupido (8/10)

Lucian Cupido was een van die agterspelers wat weer beïndruk het. Sy verdediging was op tye nie so goed nie, maar hy het Pukke se eerste drie gedruk en goeie vaart getoon.

13 – Sylvian Mahuza (7/10)

Mahuza het ’n goeie wedstryd op die aanval gehad en het sy spoed teen die kantlyn bewys nadat Benhard Janse van Rensburg hom deurgesit het vir Pukke se derde drie van die wedstryd.

12 – Henko Marais (6.5/10)

Dit was weer ’n stil wedstryd vir Marais op die aanval wat merendeels die bal versprei het en verdedig het sonder om meer met die bal te hardloop.

11- Dean Stokes (6/10)

Hierdie vaardige vleuel het maar bitter min van die bal gehad gedurende die wedstryd. Op verdediging het hy sy man gestaan – hy kon wel meer van die bal gekry het, maar Pukke het merendeels regterkant toe gespeel.

10 – Benhard Janse van Rensburg (6.5/10)

Die vorige week was Benhard ’n held maar hierdie week het sy gebrek aan ervaring by topvlak teen hom getel. Van Rensburg het sy oomblikke gehad maar hy sal aan sy taktiese skopwerk moet werk.

9 – Malherbe Swart (7.5/10)

Op skrumskakel het Swart ’n goeie wedstryd gehad. Sy verspreiding was flink en vinnig, maar soms moes hy lank wag vir balle uit die losgemaal. Hy was ook goed onder die hoë bal gewees.

8 – Marno Redelinghuys (6.5/10)

Redelinghuys het baie meer talent as wat hy op die veld gewys het en kan ‘n groter impak maak in die losgemaal.

7 – Jeandré Rudolph (7/10)

Rudolph het ’n bittersoet wedstryd gehad. Hy het Pukke se tweede drie gedruk maar ’n geel kaart verwerf wat sy span twee drieë gekos het.

6 – Jaco Jordaan (6/10)

Jordaan het ’n baie stil wedstryd gehad en hy het hierdie keer nie so groot fisieke impak gehad nie.

5 – Walt Steenkamp (7/10)

Die lynstane was hierdie wedstryd ’n groot verbetering vir Pukke.  Steenkamp het wel effens verdwyn in fases van die wedstryd.

4 – Loftus Morrison (7/10)

Nes Steenkamp was daar verbetering vir Morrison, maar hy moet steeds ’n daadwerklike impak maak.

3 – Bart le Roux (6/10)

Na ’n stewige wedstryd teen Tukkies het Le Roux nie sy beste vertoning hier gelewer nie en is in die skrums geklop met UJ wat met meer aggressie gespeel het.

2 – Wilmar Arnoldi (7/10)

Arnoldi se lynstaanwerk was tien keer beter en is ook beloon vir sy harde werk in en om die losgemaal met ’n drie om Pukke hoop te gee.

1– Mashudu Mafela (6/10)

Mashudu nes Le Roux het gesukkel en was tweede beste teen UJ se kranige voorry.

Related Articles

Back to top button