SportSport

UJ demp Pukke-hoop met kragtige vertoning

Op ‘n volgepakte Fanie du Toit Sportgronde het die NWU Pukke gisteraand, 15 Februarie hulle ondersteuners teleurgestel toe hulle met 31-36 die onderspit teen ’n vasberade UJ gedelf het. Die manne van UJ het met ongelooflike fisiekheid en puik skopwerk die tuisspan getroef en kan trots wees met nog ‘n oorwinning teen die Potchefstromers in …

Op ‘n volgepakte Fanie du Toit Sportgronde het die NWU Pukke gisteraand, 15 Februarie hulle ondersteuners teleurgestel toe hulle met 31-36 die onderspit teen ’n vasberade UJ gedelf het.

Die manne van UJ het met ongelooflike fisiekheid en puik skopwerk die tuisspan getroef en kan trots wees met nog ‘n oorwinning teen die Potchefstromers in die Varsitybeker.

Pukke het ook talle foute began en was gedurig op die agtervoet – ondanks goeie balbesit kon hulle net nie afrond nie.

Pukke het wel die wedstryd op die beste manier moontlik begin met ‘n drie van Lucian Cupido in die hoekie om met 7-0 voor te loop. Die skare het mal geraak en Pukke-krag was volop in die Fanie.
UJ het wel vinnig teruggeveg met ‘n strafskop deur Divan Nel om die punteverskil na vier toe te bring.

Die manne van Johannesburg het toe die voortou kort daarna geneem met Aphiwe Diyantyi wat onder die pale gaan kuier het. Die negepunt drie was danksy ‘n systap van senter Bradley Moolman, wie vir Pukke se verdediging weggehardloop het voor hy ‘n puik aangee na Diyantyi gegee het – 14-7 in UJ se guns na 20 minute.

Net na die strategiebreek het die wedstryd se momentum aansienlik verander met Pukke wat met nog meer intensiteit begin speel het. Die bal is goed in die agterlyn versprei en al hoe UJ kon keer was om laat lakpoging uit te voer. Ronald Brown is vir hierdie sonde afgestuur om 10 minute te gaan afkoel.

Pukke het hierna ‘n drie gaan druk met kaptein Jeandre Rudolph wat 5 punte vir sy span aangeteken het. Smith kon nie verdoel nie en die telling was nou 14-12 in UJ se guns.

Pukke het in die eerste helfte te veel strafskoppe afgestaan en moes na rustyd meer dissipline handhaaf.

Die manne het ietwat senuweeagtig gelyk en het ‘n paar basiese foute op kritieke oomblikke begaan.
Rustyd was UJ 17-12 voor met goeie skopwerk en verdediging wat Pukke se aanvallende krane vir eers toegedraai het.

Die tweede helfte het soos ‘n droom vir Jonathan Mokuena begin toe flink werk van Benhard Janse van Rensburg vir Sylvian Mahuza die kans gegun het om sy vlugvoetigheid te bewys. Met spoed en vaart het Mahuza die UJ verdedigers sowel as die kantlyn ontduik om Pukke ’n belangrike negepuntdrie te gee.

Pukke se momentum was kortstondig toe Rudolph UJ se aanval onwettig gestuit toe hy van die kant af in die losgemaal gebars het. Hy het summier ’n geelkaart gekry en Pukke moes vir die volgende 10 minute met 14 manne speel.

UJ het hierdie voordeel briljant benut en met ‘n strafdrie en verdoeling met 24-23 voorgeloop na ‘n aggressiewe en kragtige skrum.

UJ het verder sout in die wonde gevryf met Diyantyi wat sy tweede drie ingepalm het.
Pukke het weer op die aanval gegaan en na die soveelste lynstaanbeweging uiteindelik deurgebreek met Wilmar Arnoldi wat driekoors gekry het. Die telling was nou 33-28 en Pukke moes die laaste 20 minute hulle beste rugby speel.

Met 10 minute speeltyd oor het Smith die verskil na slegs twee punte gebring met ‘n strafskop sowat 45 meter uit.

UJ het ook ‘n strafskop van hulle eie teruggevuur om die verskil weer na 5 punte te bring. UJ se Nel moet geloof word vir sy goeie skopvoet gedurende die wedstryd.

Die spanning was nou hoog en die span met die meeste veggees sou finaal deurdruk – die skare op die Fanie was bankvas agter hulle manne.

Ongelukkig vir die skare het UJ hulle man gestaan en keer terug na Johannesburg toe met die louere. Pukke kry slegs ‘n bonuspunt uit die wedstryd en sal nou Kaapstad toe gaan vir ‘n ontmoeting met Ikeys volgende Maandag.

UJ: 36 (17)
Drieë: Aphiwe Dyantyi (2) Strafdrie
Verdoelings: Divan Nel (3)
Stafskoppe: Divan Nel (3)

Pukke: 31 (12)
Drieë: Lucian Cupido, Jeandré Rudolph, Sylvian Mahuza, Wilmar Arnoldi,
Strafskoppe: Rhyno Smith
Verdoelings: Rhyno Smith (2)

Related Articles

Back to top button