Pukke wil voortbou teen UJ

Oortuigend, sprankelend en dominerend. As daar net drie woorde was om Pukke se 38-15 oorwinning in die eerste ronde teen Tukkies die afgelope Maandag te beskryf, sou dit waarskynlik dit wees. Oortuigend was die manier wat Pukke se voor- en agterspelers op die veld as ‘n span saamgewerk het en die tuisspan sedert die eerste …

Oortuigend, sprankelend en dominerend.

As daar net drie woorde was om Pukke se 38-15 oorwinning in die eerste ronde teen Tukkies die afgelope Maandag te beskryf, sou dit waarskynlik dit wees.

Oortuigend was die manier wat Pukke se voor- en agterspelers op die veld as ‘n span saamgewerk het en die tuisspan sedert die eerste minuut van die veld af gespeel het. Sprankelend was die spel van Pukke se nuwe nommer tien, Benhard Janse van Rensburg, wat ‘n foutlose vertoning gelewer het en die eerste nege punt drie in rugbygeskiedenis gedruk het. Dominerend was die skopskoen van Rhyno Smith wat met puik taktiese skoppe vir Tukkies in hul eie gebied vasgehou het.

Algeheel was Pukke se afrigter, Jonathan Mokuena in sy noppies oor sy eerste wen as Pukkebreier. Tog weet hy daar is geen plek vir oorgerustheid teen UJ komende Maandag in Potchefstroom nie.

“As ‘n span het ons baie goed gespeel en ons werkverrigting was skerp gewees. Ons het wel nog baie werk om te doen en punte waarop ons in die week kan verbeter,” noem Mokuena.

Pukke gaan wil seker maak dat hulle op hulle goeie vertoning voor hulle tuisskare voortbou wanneer hulle en die oranje masjien van UJ kragte meet. Mokuena noem wel dat sy span steeds gefokus moet bly op die 80 minute op die veld.

“Ons fokus nie noodwendig waar ons speel nie en vat dit een wedstryd op ‘n slag. UJ is n baie goeie span en ons gaan nog hierdie week hulle wedstryd teen NMMU en taktiek analiseer.”

Mokuena is wel nie ‘n totale vreemdeling as dit by UJ kom nie – inteendeel, hy het verlede jaar hulle Sewesspan afgerig. UJ, net soos die Puk, het hulle eerste wedstryd ook gewen met ‘n 19-12 uitslag teen NMMU. Die nat weer in Johannesburg het hulle nie gekeer om goeie hardlooprugby te speel nie en Pukke sal moet pasop vir hulle ratse agterlyn en goeie slotte.

Die UJ skrumskakel Hilton Mudariki en heelagter Ronald Brown gaan mooi dopgehou moet word. UJ het ook in hulle vorige kragmeting met Pukke ‘n naelbyt 10-8 oorwinning gevier op hulle tuisveld verlede jaar.

Nou staan sake anders met Pukke wat vol selfvertroue speel. Een van die groot vrae gaan wees of UJ die Pukke se giftige agterlyn kan keer.

Sylvian Mahuza, Lucian Cupido,Dean Stokes en Smith het behoorlik gedans met hulle vlugvoetigheid teen Tukkies. UJ sal moet saamdans of die ritme verander.

Die wedstryd tussen NWU Pukke en UJ skop op Maandag 15 Februarie om 19:00 op die Fanie du Toit Sportgronde af.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version