SportSport

Potchefstroom se “jong Ernie” het groot drome

Met die eerste kyk kan ’n mens sien dat Christiaan Burke (15) homself nes ’n regte professionele gholfspeler hanteer. Sy blou hemp is netjies by sy lang roomkleur broek ingesteek en sy gholfstokke dra hy met eer voor hy dit uithaal en noukeurig na die bal voor hom staar. Met ’n strategiese swaai land die …

Met die eerste kyk kan ’n mens sien dat Christiaan Burke (15) homself nes ’n regte professionele gholfspeler hanteer. Sy blou hemp is netjies by sy lang roomkleur broek ingesteek en sy gholfstokke dra hy met eer voor hy dit uithaal en noukeurig na die bal voor hom staar. Met ’n strategiese swaai land die bal in die kol – iets wat nogal gereeld gebeur.

Burke is een van Potchefstroom se talentvolste jong amateurspelers wat op 15-jarige ouderdom reeds vir die o.19 Noordwesspan by die Interprovinsiale toernooi verlede jaar deelgeneem het.

Burke het sy liefde vir gholf ontwikkel deur middel van sy oupa se ywerigheid en passie vir die spel.

“My oupa speel nog steeds op 80-jarige ouderdom gholf. Ek kom uit ’n familie wat mal is oor gholf.

“My pa en my broer, Johan, speel gholf en ek het al op vierjarige ouderdom my eerste stok vasgehou,” voeg hy by.

Dit was die begin van ’n droom wat nou elke jaar groter en groter word sedert hy op die nat-agter-die-ore-ouderdom van ses reeds sy eerste toernooi gewen het.

“Op o.13 vlak was ek derde by die SA’s gewees, wat vir my ’n wonderlike ervaring was. Ek was ook deel van die top agt skolegholfspelers in Noordwes by die o.19 toernooi verlede jaar. Ek het gekwalifiseer as gevolg van my hou-gemiddeld,” verduidelik hy.

Burke noem dat sy spel juis so goed is omdat hy ure op die baan na skool deubring waar hy en sy vriende gereeld by Potchefstroom Buiteklub oefen.

“My chipping is baie goed. Ek dink dit is ’n talent, maar ek moet werk aan my dryfhoue in die begin van my rondte,” sê Burke.

Burke waarsku wel dat gholf dalk nie vir almal is nie en dat dit baie selfdissipline kort onder ander faktore.

“Ek dink ’n mens moet baie geduld en selfvertroue in jou spel hê. Dit is ook uiters belangrik om respek vir die spel en mense om jou te hê. Almal is hier om gholf te geniet,” sê hy.

“Ek wil nog graag een van die top 10 amateurspelers in die land word voordat my skoolloopbaan verby is. Ek wil ook nog ’n SA toernooi wen en dan SA span kry,” vertel Burke sy toekomstige doelwitte.

Burke kyk ook op na Ernie Els, wat hy al ontmoet het. “Hy inspireer kinders om aan te hou gholf speel en hy is ’n baie plat op die aarde mens,” sê die leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom.

Volgens Burke is sy beste hou een wat hy twee jaar terug in Rustenburg gespeel het.

“Die kolhou was op Rustenburg Buiteklub se 17de putjie. Dit was sover nog my beste hou,” vertel hy trots.

Dit sal beslis nie die laaste kolhou wees wat Burke oraloor die land gaan speel nie.

Hou maar hierdie naam mooi dop.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button