SportSport

Puik Pukke!

’n Skitterende eerste 25 minute van vloeiende hardlooprugby het die platform gelê vir Pukke se oortuigende 38-15 oorwinning teen Tukkies in die eerste rondte van die 2016 Varsitybeker op die LC de Villiers Stadion in Pretoria vanaand. Pukke se Walt Steenkamp het die eerste punte op die telbord met sy drie gesit waarna die nuwe …

’n Skitterende eerste 25 minute van vloeiende hardlooprugby het die platform gelê vir Pukke se oortuigende 38-15 oorwinning teen Tukkies in die eerste rondte van die 2016 Varsitybeker op die LC de Villiers Stadion in Pretoria vanaand.

Pukke se Walt Steenkamp het die eerste punte op die telbord met sy drie gesit waarna die nuwe losskakel, Benhard Janse van Rensburg met twee drieë in die eerste helfte, die wind uit Tukkies se seile geruk het. Rhyno Smith het ook ’n briljante wedstryd gehad en het al ses sy skoppe na die pale oorgeklits. Hy was ook uitstekend op die aanval en rotsvas met sy verdediging gewees.

Die krane het al vroeg in die sesde minuut oopgemaak toe Steenkamp die eerste drie na ’n mislukte lynstaangooi van Tukkies se Corniel Els gedruk het. Die bal het rondgespring en Steenkamp was die een wat vinnigste gereageer het.

Die tweede drie – en eerste negepunt-drie van die kompetisie, was die beste een van die wedstryd en het Pukke se balhantering en spoed perfek opgesom:

Janse van Rensburg het ’n vinnige tikskoppie in sy eie halfgebied geneem en Tukkies onkant gevang. Kort daarna was die bal in Lucian Cupido se besit waar hy toe ’n merkwaardige aangee na Smith gelewer het. Smith het toe die bal met perfekte tydsberekening weer vir Janse van Rensburg teruggegee om onder die pale te gaan kuier. Die jong losskakel en sy spanmaats het van kop tot toon geglimlag en na ’n verdoeling met 18-0 voorgeloop.

As die skade nie al genoeg was nie het Pukke weer groot druk op hulle teenstanders gesit en Janse van Rensburg het na ’n goeie rekpoging sy tweede een gedruk. Die jong man kon nie ’n voet verkeerd sit in die eerste helfte nie en het die bal uitstekend versprei.

Teen rustyd was die stadion tjoepstil gewees met die Tukkies toeskouers wat dit nie in hulle wildste drome sou kon voorspel nie: 25-3 vir Pukke was nou ’n regte nagmerrie.

Die tweede helfte was rustiger en al twee spanne het meer berekend begin speel – dit kon ’n mens sien met Pukke wat met twee puik strafskoppe hulle telling verleng het.

Tukkies het wel probeer terugveg en is vir konstante druk beloon toe die yslike stut, Andrew Beerwinkel, gaan druk het.

Een van Tukkies se ligpunte in ’n andersins stormagtige vertoning was hulle losskakel,Josh Stander, wat ’n paar puik lopies voltooi het en met ’n gevaarlike systap meer verdien het. Een van sy goeie oomblikke het tot Tukkies se tweede drie gely, met die linkervleuel, Duhan van der Merwe wat in die hoek gaan druk het na ’n voorafbeplande beweging nommerpas uitgevoer is.

Tukkies se geluk was wel kortstondig met Mahuza wat in die vyf laaste minute die finale spyker in Tukkies se doodskis gekap het met ’n vierde drie vir Pukke.

Dit was ’n uitstekende drie wat Smith en Cupido met vinnige balverspreiding begin het. Mahuza moes net die versiering doen en die kersie op die koek sit – vir ’n speler met sy talent was dit doodeenvoudig.

Pukke het Tukkies op alle aspekte getroef, maar sal aan hulle lynstane moet werk die komende week, asook die 19 hanteringsfoute wat hulle begaan het. Tuks kon nie voordeel hieruit trek nie aangesien hulle ook dieselfde hoeveelheid blapse gemaak het.

Algeheel was Pukke kaptein Jeandré Rudolph in sy noppies na die wedstryd.

“Dit was ’n goeie rugbywedstryd. Ons het seker gemaak dat ons die basiese dinge reg doen en alles het mooi uitgewerk op die aanval vandag,” het hy met ’n reuse glimlag na die wedstryd gesê.

Smith, wat as speler van die wedstryd benoem is, was ook heel tevrede.

“Ons het gefokus daarop wat ons vandag kon beheer en dit was om die bal te behou en ons kanse te vat. Ons werk lekker saam met die nuwe afrigter en dinge lyk goed hierdie jaar.”

NWU-Pukke: 38 (25) Drieë: Walt Steenkamp, Benhardt Janse van Rensburg (2), Sylvian Mahuza. Doelskoppe: Rhyno Smith (4) Strafskoppe : Rhyno Smith (2)

UP- Tukkies: 15 (3) Driee: Andrew Beerwinkel, Duhan van der Merwe. Doelskoppe: Josh Stander (1) Strafskoppe : Josh Stander (1)

Pukke speel volgende teen UJ by die Fanie du Toit Sportgronde volgende op Maandag, 15 Februarie om 19:00.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button