SportSport

Mokuena reg vir Tuks-uitdaging

’n Vuurdoop. Dít is wat Maandagaand op Jonathan Mokuena wag wanneer die nuwe NWU-Puk-breier sy eerste amptelike wedstryd teen Tukkies in Pretoria afskop, boonop in die eerste rondte van die Varsitybeker. Drukkoker situasies is egter niks vreemds vir Mokuena nie. As bekroonde Blitsbok en gesoute provinsiale speler vir spanne soos die Luiperds, Griekwas, die Goue …

’n Vuurdoop. Dít is wat Maandagaand op Jonathan Mokuena wag wanneer die nuwe NWU-Puk-breier sy eerste amptelike wedstryd teen Tukkies in Pretoria afskop, boonop in die eerste rondte van die Varsitybeker.

Drukkoker situasies is egter niks vreemds vir Mokuena nie. As bekroonde Blitsbok en gesoute provinsiale speler vir spanne soos die Luiperds, Griekwas, die Goue Leeus en Vrystaat weet hy wat dit verg om in die kryt teen Goliat en dies meer te klim.

Op die veld was hy vlugvoetig, innoverend. Hy het verdedigers laat kopkrap en laat bontstaan.

Hierdie eienskappe gaan teen Tukkies nodig wees, want met dalk die grootse pak voorspelers in die toernooi weet die Noordwesters hulle kan ’n genadelose aanslag voorlangs verwag.

Ja-nee, Maandagaand gaan ’n  groot een vir Mokuena wees. “Ek is ’n bietjie senuweeagtig en dit is besig om op te bou, maar terselfdertyd is ek ook baie opgewonde,” sê hy op sy kenmerklike vriendelike wyse.

Volgens hom was Tukkies se makro-agttal juis een van die afrigtingspan, wat Jean Tiedt en Johan Laker insluit, se fokuspunte.

“Tuks lyk na ’n baie afgeronde span wat hul spel goed tussen hul voor- en agterspelers afwissel. Hulle voorspelers is egter hul groot sterkpunt. Ons het verseker ’n paar planne om hulle voorlangs te stop.”

IMG_2805

In kaptein Jeandre Rudolph het Mokuena ook nie net ’n  uitstaande losvoorspeler nie, maar ook ’n  leier wat met sy begeesterde inklimspel van voor af lei.

“Jeandre het al voorheen die span gelei en mens kan nie verby sy ervaring kyk nie. Hy het baie sterk leierskapeienskappe en ook ’n goeie leierskapsgroep om hom,” sê Mokuena.

Onder voormalige afrigter Robert du Preez het die NWU-Puk twee agtereenvolgende eindstryde gehaal en die watermerk is ongetwyfeld hoog gestel.

“Die span het baie goed die afgelope twee jaar gedoen en hulle het al die krediet verdien wat hulle toegekom het.

“My fokus is egter op wat vanjaar gaan gebeur en nie die verlede nie. Ek het net beheer oor nou en om ons die beste moontlike span te maak. In hierdie taak is ek absoluut geseënd. Daar is min mense wat met soveel blydskap kan opstaan en doen waarvoor hulle lief is.”

En Mokuena, hy is lief vir wen.

Related Articles

Back to top button