Geskiedenis aan Pukke se kant

Jonathan Mokuena se NWU Puk-manne gaan heel eerste teen Pote Human se Tukkies in Pretoria in die eerste rondte van vanjaar se Varsitybeker te staan kom. Dit word op Maandag 8 Februarie by die bekende LC de Villiers-stadion gehou. Pukke en Tukkies het ‘n lang geskiedenis van taai Varsitybeker-wedstryde met naelskraap uitslae en oomblikke wat …

Jonathan Mokuena se NWU Puk-manne gaan heel eerste teen Pote Human se Tukkies in Pretoria in die eerste rondte van vanjaar se Varsitybeker te staan kom. Dit word op Maandag 8 Februarie by die bekende LC de Villiers-stadion gehou.

Pukke en Tukkies het ‘n lang geskiedenis van taai Varsitybeker-wedstryde met naelskraap uitslae en oomblikke wat wedstryde die een of ander kant toe beklink. Johnny Welthagen se drie in verlede jaar se halfeindstryd op die LC de Villiers-stadion in die doodsnikke is een so ‘n voorbeeld. Pukke het daardie wedstryd met 29-28 gewen.

In verlede jaar se groepwedstryd het Pukke met 42-37 op die Fanie du Toit Sportterrein gewen.

Vir die afgelope drie toernooie het Pukke die oorhand met vier oorwinnings in ’n ry. Die laaste keer wat Tukkies die Pukke gewen het, was in 2012 met ’n 40-20 oorwinning by die L.C de Villiers-stadion. Dit behoort weer ’n absolute titaniese stryd te wees met hierdie twee spanne wat bitter graag met ’n wen wil begin om momentum te bou.  Mokuena sal in sy eerste amptelike Varsitybeker-wedstryd as Puk- breier sy spelpatrone en insette op die veld wil sien realiseer. “Ons het goed gedoen in ons opwarmingwedstryde teen Wits en Rustenburg Impala en ons kon sien watter kombinasies werk vir ons. Ek is self nog nie een honderd persent seker oor die finale spanne nie, maar in sekere posisies het ek ’n goeie idee,” sê Mokuena.

Die dilemma waarmee Mokuena in die stadium sit is dat beide sy twee losskakels, Schalk Hugo en Benhardt Janse van Rensburg met klein beserings sit. “Dit is heel toevallig dat albei hierdie spelers in dieselfde posisie beseer is, maar ons sal teen Donderdag seker wees oor hulle fiksheid. Die vorige twee jaar het aanvallende uit-die-boks-rugby vir spanne die beker laat wen. Spelers wat die x-faktor het gaan die meeste impak maak,” voorspel hy.

“Die nuwe puntestelsel waar drieë van 9, 7 of 5 punte kan tel, afhangende waar die beweging ontstaan het, is juis waar die aanvallende neiging ’n groot rol gaan speel. Ons wil daarvan gebruik maak, maar nie heeltyd daarop fokus nie. As die geleentheid daar is vir ’n teenaanval, moet ons dit vat,” sê Mokuena.

*Die wedstryd tussen NWU-Pukke en Tukkies skop op Maandag 8 Februarie om 16:45 af en word regstreeks op Supersport 1 uitgesaai.

Exit mobile version