SportSport

Amelia se atlete breek rekords by Wêreldkampioenskappe

Daar is weer eens bewys dat Suid-Afrika met wêreldgehalte atlete geseën is na afloop van die 2015 Atletiek Wêreldkampioenskappe vir Atlete met Down-sindroom. Vanaf 21 tot 27 November het die Groen en Goud masjien met 38 medaljes en vier nuwe wêreldrekords met die eerste plek op tuisgrond weggestap. Die bekende Amelia Nasorgsentrum in Potchefstroom het …

Daar is weer eens bewys dat Suid-Afrika met wêreldgehalte atlete geseën is na afloop van die 2015 Atletiek Wêreldkampioenskappe vir Atlete met Down-sindroom.

Vanaf 21 tot 27 November het die Groen en Goud masjien met 38 medaljes en vier nuwe wêreldrekords met die eerste plek op tuisgrond weggestap. Die bekende Amelia Nasorgsentrum in Potchefstroom het ook ’n groot aandeel in hierdie suksesverhaal gehad, met die hoofafrigter van die SA span, Hans Kleyn, wat ’n klomp atlete suksesvol afgerig het. Amelia het vyf atlete na die kampioenskappe in Bloemfontein geneem, met drie atlete wat nuwe wêreldrekords opgestel het.

“Dit was ’n verblydende oomblik vir my om hulle gesigte te sien wanneer hulle ’n medalje kry of rekords breek. Dit gee menswaardigheid aan hulle, dit maak my dag en is my hoofmotivering,” vertel Kleyn, wat al 22 jaar by Amelia betrokke is, trots.

Melanie Barnard was een van die groot uitblinkers met haar krag en tegniek en het die toekenning vir beste vroueatleet by die kampioenskappe ontvang. Verder het Barnard drie goue medaljes in spiesgooi, werpskyf en gewigstoot verwerf. Hannes Walt de Klerk het twee goue-, drie silwer- en ‘n bronsmedalje verwerf, sowel as ‘n nuwe wêreldrekord in die 800 meter stap aangeteken.

Cornell Reyneke het ook drie medaljes verower, met silwer medaljes in spiesgooi en werpskyf, sowel as ’n bronsmedalje in die gewigstoot. “Hierdie was werklik ’n wonderlike jaar vir ons atletiek en sport in die algeheel. Vorige jare het die Suid-Afrikaanse span derde plekke behaal, maar hierdie keer was ons heel bo,” vertel Kleyn opgewonde. Wat Kleyn in Bloemfontein behaal het kom al ’n lang pad sedert hy in 1994 begin het en nou tans  43 atlete met gestremde het wat hy op ’n daaglikse basis by Amelia laat oefen.

“Hierdie atlete van my kom nie net vinnig by so ‘n wêreldkampioenskap uit nie. Dit vat baie harde werk en ure se oefening. Eerstens moet hulle die Noordwesspan haal, dan die minimum standaarde van die SA kampioenskappe behaal en dan kom die wêreldkampioenskappe. Verder is daar ook intersentrum-byeenkomste vir nasorgsentrums soos Amelia, in die land.”

Kleyn doen ook baie harde werk en die sukses van sy span hang ook baie af van sy streng en doelgerigte werketiek. ’n Mens haal behoorlik jou hoed vir hom af.  “Ek is al ’n halfuur vroeër by die werk en dan oefen ons in verskillende tye gedurende die dag. Dit sluit alles in van naellope, algehele fiksheiditems, spesifieke oefeninge, tot swem wat ons by die Fanie du Toit Sportterrein inpas,” verduidelik hy sy bedrywige skedule kortliks.

“In die begin het ek met die meisies en seuns sokker gespeel om hulle hand-oog-koördinasie op peil te kry. Stelselmatig het dit ekstra lewenslus gegee en tot sover het Amelia groot sukses behaal,” sê Kleyn.  Volgens Kleyn was dit ook belangrik dat hulle voldoende befondsing gekry het en hul onkostes tot ’n minimum beperk was. “Die Nasionale Lotery het ons baie gehelp en atlete het ’n vol stel pragtige klere gekry en kon ook as wenners nuwe tekkies en skoene kry. Dit het almal groot laat glimlag.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button