Foto’s: Western Vikings kelder die Amerikaanse Universiteit van Beiroet in Rugby League-stryd

Daar is verlede Saterdagmiddag, 16 Januarie op Potch Dorp se rugbyvelde geskiedenis gemaak op vele vlakke. Eerstens het die Libanese van die Amerikaanse Universiteit van Beiroet hier in Potchefstroom vir die eerste keer kom rugby speel. Tweedens en seker die belangrikste is dat Potch Dorp se Western Vikings Rugby League-span ’n  briljante 52-20 oorwinning teen …

Daar is verlede Saterdagmiddag, 16 Januarie op Potch Dorp se rugbyvelde geskiedenis gemaak op vele vlakke. Eerstens het die Libanese van die Amerikaanse Universiteit van Beiroet hier in Potchefstroom vir die eerste keer kom rugby speel. Tweedens en seker die belangrikste is dat Potch Dorp se Western Vikings Rugby League-span ’n  briljante 52-20 oorwinning teen die besoekers aangeteken het om hulle stempel behoorlik in die rugbykode af te druk.

Die Vikings begin dit ’n gewoonte maak om reg van die begin af punte aan te teken en om dan verwoed hul doellyn te verdedig. Saterdag was dit weer die geval en binne ’n  paar minute is twee vinnige drieë ingeryg om die telling op 12/0 te staan te bring.

Man vir man en op die oog af, moes die Amerikaanse Universiteit van Beiroet (AUB), gou die oorhand gekry het, maar daar was nie deurkomkans nie. Dit was blote vernuf, balvaardighede, fiksheid en ’n kombinasie van League en Unie wat die lot van die besoekers verseël het. Weer eens is dit onderstreep dat Rugby League ‘n baie vinnige en aanskoulike rugbykode is.

“Dit was ‘n wonderlike geleentheid om hier te kom speel en die vernuf waarmee julle speel is opmerklik goed. Ek wil dankie sê aan almal vir ’n  mooi wedstryd,” het die AUB se afrigter, Mikhael Shammas na die afloop van die wedstryd gesê.  Opmerklik was ook die getal toeskouers wat wedstryd na wedstryd aangroei. Boys High het met ‘n groot groep leerders opgedaag, terwyl ander bekende skole in Potchefstroom deur die Departement van Onderwys en Sport Ontwikkeling uitgenooi was om die wedstryd by te woon.

Volgens Jan Prinsloo, Springbok Rugby League-speler uit die vroeë sestigerjare, sal die Vikings en Potch Dorp se uniespan geleidelik van krag tot krag gaan en die wyse waarop hul opponente Saterdag meters ver teruggedryf is, spreek boekdele, veral as in ag geneem word dat die Beiroeters ’n gedugte span is. Wimpie Jacobs, Piet Jordaan en ’n paar handige manne het self aan die werk gespring om alles in gereedheid te kry vir die besoekers, want daar word groot dinge vorentoe beplan. Die Luiperds Rugby Unie het gesorg vir verdere steun en die rugbyveld was ‘n groen tapyt waarvoor Jordaan hoofsaaklik gesorg het en waarop rugby op sy beste opgedis kon word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version