Die geskiedenis van Pukke in die Varsitybeker

Die jaarlikse Varsitybeker-toernooi het sedert sy bestaan in 2008 ‘n groot en belangrike instelling op die Suid-Afrikaanse rugbykalender geword. Met opwindende spelers, lojale toeskouers, klomp vermaak en aksiebelaaide rugby kan ‘n mens nie hierdie sportskouspel mis nie. Vanjaar skop die Varsitybeker op 8 Februarie af met die verdedigende kampioene, die UFS – Shimlas, wat teen …

Die jaarlikse Varsitybeker-toernooi het sedert sy bestaan in 2008 ‘n groot en belangrike instelling op die Suid-Afrikaanse rugbykalender geword. Met opwindende spelers, lojale toeskouers, klomp vermaak en aksiebelaaide rugby kan ‘n mens nie hierdie sportskouspel mis nie. Vanjaar skop die Varsitybeker op 8 Februarie af met die verdedigende kampioene, die UFS – Shimlas, wat teen die Universiteit van Kaapstad se Ikeys te staan kom. Die Universiteit van Pretoria en die NWU Pukke gaan wel sorg vir die eerste wedstryd van die kompetisie op die LC de Villiers-stadion. Hierdie twee spanne het ‘n ryke geskiedenis met talle halfeindstryd ontmoetings en naelbyt wedstryde. Die NWU Pukke sal vir ‘n slag die beker wil huis toe bring nadat hulle in die toernooi die afgelope jaar net net in die eindstryde nie die pyp kon rook nie.

Daar is ‘n gesegde wat lui dat ‘n mens die verlede moet verstaan en daaruit leer om vorentoe te beweeg. Soms is dit goed om bietjie retrospektief in die kelders van Varsity Rugby se geskiedens te delf. Potchefstroom Herald het na NWU Pukke se jare in die Varsitybeker gaan loer en ‘n klomp interessanthede gevind.

2008 (Semi-finaal verdriet vir Pukke in die Kaap):

Hierdie was die jaar wat universiteitsrugby aansienlik verander het en meer professioneel geword het. Dié toernooi is al waar klomp spelers die sade vir Springbokrugby begin plant het. Ouens soos Lood de Jager, Juan de Jongh en Nizaam Carr is maar van die groot name wat ‘n trui in die Varsitybeker aangetrek het.

NWU Pukke het in 2008 met Matthew Proudfoot aan die leisels, ‘n plek in die semi-finaal gekry maar moes teen die UCT Ikeys met een punt in daardie wedstryd sneuwel. Die eindtelling was 32-31 in die tuisspan se guns in Kaapstad. Die bekende Namibiese losskakel, Theuns Kotze, was toe deel van Pukke se span.

2009 (Finale glorie nie vir Pukke beskore):

In die tweede uitgawe van Varsitybeker-aksie kry Pukke dit hierdie keer reg om hulle semi-finaal demone te oorwin en kom teen Maties in die finaal te staan. Pukke klop Ikeys 19-17 op die Grootte Schuur veld in die Kaap om 2008 se bordjies te verhang. Tog moet Pukke ‘n paar kilometers verder in Stellenbosch die volgende week teen die vorige jaar se wenners, Maties,  gaan speel. Maties is wel gans te sterk vir Pukke en wen 11-6 om Pukke met leë hande huis toe te stuur.

2010 (Maties wen derde keer in ‘n ry):

2010 was weer vir die derde agtereenvolgende keer die jaar van die Matie en ‘n herontmoeting van die 2008 finaal. Die Matiemasjien was weer onstuitbaar en het 17-14 op die Danie Craven-stadion  in die eindstryd feesgevier.

Pukke het ‘n goeie toernooi gehad maar moes teen ou vyand Maties in die halfeindstryd kleitrap.

2011 (Pukke flou, Ikeys bo):

Hierdie jaar sal nie deur baie Pukke ondersteuners onthou wil word nie met Pukke wat in die sesde plek, buite die uitkloprondtes, geëindig het. Die ervare afrigter, Rudy Joubert, kon nie die span gereeld laat wen nie en moes toekyk hoe sy span in sy eerste vyf wedstryde verloor het. Die span kon net vir TUT en die NMMU Madibaz klop in ‘n nagmerrieseisoen. 2011 was wel ‘n hoogtepunt vir Ikeys wat die Varsitybeker uit Maties se greep geneem het. Snaaks genoeg kon Maties ook nie die uitkloprondtes haal nie, na hulle die eerste drie bekers gewen het. Die WP losskakel Dmitri Catrikilis was op sy stukke en het gesorg dat die manne van Kaapstad die bekeroorwinning vier.

2012 (Tuks te goed vir Pukke):

In 2012 eindig Pukke vierde en verloor weer in die halfeindstryd, hierdie keer teen die jaar se kampioenspan, Tukkies. Die span van Pretoria was gans te sterk en klop Pukke 53-24 op die LC de Villiers-stadion.

2013 (Tukkies weer wenners):

In 2013 maak Tuks weer so en vat weer die Varsitybeker en klop Maties 44-5 in die finaal. Pukke maak nie hond haaraf nie en eindig ‘n teleurstellende seisoen in die vyfde plek.

2014 (5 minute van pyn):

Hierdie was Pukke se jaar om die Varsitybeker te wen. Hulle het ‘n uitstekende span gehad, net een wedstryd in die groepfase verloor en heel bo aan die punteleer geëindig – die eerste keer in die geskiedenis van die Varsitybeker. In die halfeindstryd kom NWU Pukke teen die NMMU Madibaz te staan, wat as ‘n “maklike wedstryd”bestempel is. Tog wen Pukke naelskraap met ‘n 19-18 oorwinning. Die nuwe afrigter, Robert du Preez het verseker elke haar uit sy kop getrek toe sy span teen Ikeys in die finaal verloor, na hulle ‘n reuse voorsprong gehad het. Met vyf minute speeltyd oor en ‘n 18 punt voorsprong kon Pukke nie wen nie. ‘n Ongelooflike terugvegpoging, wat drie drieë insluit, kelder Pukke met 39-33 en los die hele Fanie du Toit Sportgronde in totale skok en ongeloof.

2015 (Wipplank-seisoen eindig met Bloemloesing):

Verlede jaar onder Du Preez kry Pukke dit weer eens reg om die eindstryd te haal, maar delf die onderspit met ‘n 63-33 loesing teen UFS Shimlas in Bloemfontein. Daar was wel baie hoogtepunte vir Pukke, met Rhyno Smith, wat as Speler van die Toernooi bekroon is en sterre soos Dillon Smit, Jeandre Rudolph en Marno Redelinghuys hulle staal wys. Die oorwinning teen Tukkies in die halfeindstryd bly ‘n hoogtepunt met Johnny Welthagen wat ‘n briljante individuele drie druk om die wedstryd vir die Pukke te wen.

 

Exit mobile version