Boulers maak amok in Potch Dorp en Pukke krieketkragmeting

Ondanks ‘n skitterende vyfster boulvertoning van Potch Dorp 1 se JP le Roux, kon hulle nie verlede Saterdag op Witrand die mas teen ‘n begeesterde NWU Pukke 1 opkom nie, en het met 26 lopies verloor. In die Senwes Premier A-ligawedstryd waar die paaltjies soos onkruid verwyder is, kon albei spanne skaars bo die 100-merk …

Ondanks ‘n skitterende vyfster boulvertoning van Potch Dorp 1 se JP le Roux, kon hulle nie verlede Saterdag op Witrand die mas teen ‘n begeesterde NWU Pukke 1 opkom nie, en het met 26 lopies verloor. In die Senwes Premier A-ligawedstryd waar die paaltjies soos onkruid verwyder is, kon albei spanne skaars bo die 100-merk kom in hulle kolfbeurte. NWU Pukke het eerste gekolf en ‘n skamele 139 almal uit aangeteken. Potch Dorp het toe ‘n nagmerrie lopiejaagtog beleef waar hulle vir 113 in 43 boulbeurte uitgeboul is.

Le Roux (10-1-20-5) het vir groot sports in Pukke se openingsbeurt gesorg toe hy met Niel Bredenkamp se paaltjie vir die studente op 33/6 laat wankel het.

Op hierdie stadium moes Potch Dorp gedink het dat hulle net na etenstyd ‘n gemaklike oorwinning sou behaal. Armand Erasmus (40) en Schalk Marx (32) het wel vir NWU Pukke hoop gegee voordat Marno Pretorius (10-1-48-4) die laaste paar paaltjies geneem het.  Dit was net die hupstoot wat Pukke nodig gehad het met hulle boulaanval wat alles in die eerste 10 boulbeurte gegee het.

Ockert Gericke en Nico Myburgh het wel ‘n goeie 49-lopie openingsvennootskap vir Dorp die momentum gegee. Erasmus het eerste deurgebreek toe hy Myburgh (29) na die pawiljoen gestuur het.

Voor Potch Dorp hulle oë kon uitvee was hulle 55-4 na ‘n venynige boulvertoning van Erasmus en Marx. Die paniek was hoog ‘n paar beurte later toe Katle Leokoake twee vinnige paaltjies geneem het om die telling na 71-6 te lei.

Potch Dorp moes nou inspring en plan maak. Marcus Fourie (21) het sy bes probeer maar was ‘n slagoffer van Bredenkamp (7-2-10-2) se ekonomiese draaiballe. Henning du Plooy het die finale spyker in die doodkis geslaan toe hy ironies genoeg laaste vir JP le Roux uitgeboul het.

Dit was juis ‘n straks verskillende prentjie ’n paar ure vroeër met Le Roux wat paaltjies as bouler ingesaai het.

NWU Pukke is nou steeds onoorwonne na nege wedstryde en is bo-aan die Premier A-liga punteleer. Dorp se eerstes is tans vierde met 28 punte.

JP le Roux laat waai in sy boulbeurt vna 5/20.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version