SportSport

Netbalafrigting is in haar bloed

Noordwesnetbal beleef tans ’n ongekenne bloeitydperk. Nie net is die NWU Pukke as Varsity Netbalwenners bekroon, nie maar is die Noordwesspan ook SA Kampioene. In albei daardie oorwinnings is daar een hoofstrateeg. Die doele was soos melodiese note en die spangees met harmonie deurtrek. “Ons oorwinnings kom al ’n lang pad. Verskie kere was ons …

Noordwesnetbal beleef tans ’n ongekenne bloeitydperk. Nie net is die NWU Pukke as Varsity Netbalwenners bekroon, nie maar is die Noordwesspan ook SA Kampioene.

In albei daardie oorwinnings is daar een hoofstrateeg. Die doele was soos melodiese note en die spangees met harmonie deurtrek.

“Ons oorwinnings kom al ’n lang pad. Verskie kere was ons amper daar, het ons by die finale hekkie gestruikel maar nou kan ons feesvier. Ons het dit uiteindelik gedoen,” sê Badenhorst moeg maar tevrede na die lang seisoen.

“Ons moes by SA’s 12 wedstryde in ses dae speel en toe net daarna Varsity Netbal. Dit was uitputtend maar ons seges wys ons karakter onder druk. Ons spangees is ongelooflik en om Kovsies en Maties weg te gewen het, is ’n hoogtepunt.”

Dié oorwinnings is nie net blote toeval vir die ervare afrigter en voormalige speler nie. Sy het vele prestasies op haar kerfstok vandat sy in 1995 ernstig begin afrig het op skoolvlak.

“Ek het nog altyd van afrigting gehou. My pa is my rolmodel en hy ondersteun my nog altyd vandat ek begin netbal en tennis op skool gespeel het,” dink Badenhorst terug. Badenhorst het provinsiaal kleure in Laer en Hoërskool verwerf en daar het sy haar passie aanhou gevoed. “Ek het naskool B.Com. Sportbestuur by die destydse RAU (nou UJ) voltooi en ook vir die netbalspan gespeel. Daar het ek ook die SA Universiteitespan gehaal.

Ek het my laaste SA’s gespeel in 2000 voordat ek my laaste netbalwedstryd gespeel het,” vertel sy. Badenhorst was ook betrokke in die onderwys en het by Helpmekaar Kollege afgerig en ook groot naam by Hoërskool Bastion gemaak waar sy die skool van ’n onbekende na ’n top netbalskool in ’n paar jaar verander het.

Sy erken ook dat sy nie in afrigter verander het as dit nie vir rolspelers soos Elize Kotze was , wat haar met haar afrigting in die begin gehelp het nie. “Ek het toe by Elize oorgeneem en vir RAU vir 8 jaar afgerig. Ek was ook die SA o.19 en o.21 afrigter, waar ons primêr op ontwikkeling en identifisering gefokus het,” sê sy.

In 2012 het Badenhorst by NWU begin afrig en het al vele toernooie oorsee afgerig saam met verskillende spanne. Tog het sy steeds gehoop om SA’s en Varsity Netbal te wen, twee van die groter.

“Nou het die ys gebreek. Ons het met die SA’s in Margate in moeilike omstandighede kop gehou en gewen. Dit hert daardie wenkultuur geskep en dit motiveer die spelers. Iets in hulle agterkoppe laat hulle besef dat hulle kampioene is.”

Wat Badenhorst en die NWU Pukke se oorwinnings merkwaardig maak is dat hulle eerstens ’n relatiewe klein poel van spelers het om van te kies en dat hulle tweedens glad nie ruskans tussen toernooie gehad het nie. “Dit is vir my belangrik om spelers te ontwikkel en dat hulle net die beste bereik. Elkeen het sy eie goeie sterkpunte en vaardighede en mens moet weet hoe om spelers te hanteer.

My afrigting gaan primêr oor my spelers en nie oor my nie. Ek dink dit is waar ek verskil van ander afrigters. Haar netbalafrigting is spelergefokus en sy glo dat wen die alfa en omega is nie – wel nie ten koste van persoonlike welstand nie. “Om te wen is belangrik maar om vriende te maak nog soveel meer.

My spelers studeer ook nog en dit maak dit soms moeilik. As afrigter moet ’n mens na die holistiese prentjie kyk. Ons kombinasies en spanwerk was briljant hierdie jaar,” verduidelik Badenhorst haar afrigtingsfilosofie. Dit was wel nie altyd maklik nie. Daar was tye van sukkel en moeilike omstandighede.

Tye van verwyte met Maties en Pukke se beurtkragdebakel en al was die lywe uitgeput was die gees en kop sterker as ooit. Verder moes Badenhorst en haar spelers leer om met musiek te speel vir die Varsity Netbaltoernooi – iets wat spelers se konsentrasievermoë en kommunikasie op ’n baan erg kan beinvloed.

“Dit was baie uitdagend omdat die spelers so afhanklik van hulle spanmaats se kommunikasie afhanklik is. Die powerplay was ook ’n groot faktor en kon ’n wedstryd vinnig geswaai het,” maan Badenhorst. Sy glo ook dat netbalafrigters meer in Suid-Afrika moet saamwerk eerder as om teen mekaar te werk. “Niemand gun iemand iets nie en dit sal lekker wees as ons mekaar sukses gun.”

Weg van die baan af is haar ouers haar grootste ondersteuners en is familie (haar hondekinders) vir haar belangrik. “Ek het nie baie vriende nie maar ek het ‘’n paar baie goeie vriende en natuurlike is my twee Jack Russels, Jasper en Lulu, daar. My ouers kan nie die spanning op die baan hanteer nie, al kom kyk hulle altyd,” glimlag sy.

Vinnige vrae

Vakansieplek: Die Weskus

Kos: Ek sal elke dag braaivleis eet!

Inspirasie: My ouers, vriende en te sien hoe spelers floreer.

Wat maak jou negatief? Skynheilige mense.

Beste terugvoer ooit? Ek het goeie terugvoer van die Australiaanse afrigter, Jill McIntosh toe ek by Gauteng Central was in my eerste jaar. Lyn Gunson was ook baie positief.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button