SportSport

Volkskool se krieketspelers is kookwater teen KHS

Volkskool se eerste krieketspan het verlede naweek op hulle tuisveld ‘n uitdagende 4 paaltjie oorwinning behaal teen Hoërskool Klerksdorp, om hulle plek in die eindstryd teen Gimmies te bevestig. Albei spanne moes hard werk en skouer aan die wiel sit sonder om enige opening vir mekaar te gee. KHS het 208 almal uit aangeteken met …

Volkskool se eerste krieketspan het verlede naweek op hulle tuisveld ‘n uitdagende 4 paaltjie oorwinning behaal teen Hoërskool Klerksdorp, om hulle plek in die eindstryd teen Gimmies te bevestig.

Albei spanne moes hard werk en skouer aan die wiel sit sonder om enige opening vir mekaar te gee. KHS het 208 almal uit aangeteken met Volkies wat 209, met ‘n paar benoude oomblikke behaal het. Daar was tye waar albei spanne kanse gehad het om hulle stempel af te druk, maar op die ou einde het KHS se ink opgeraak.

Volkskool se Charles Louw het ‘n broodnodige 66 (70) aangeteken om Volkskool se kolfbeurt bestendig te hou. WL Fourie 19 (37) en Cobus Crowther 18 (38) het gesorg dat hulle die wenlopies slaan. Vroeër het KHS eerste gekolf met die openingskolwers Lourens Vorster en Albert van der Watt wat 73 lopies vir die eerste paaltjie in 22 boulbeurte aangeteken het.

Volkies het uitstekend geboul en met goeie veldwerk gesorg dat die lopietempo nooit buite beheer raak nie. Louw het ook voortdurend sy spanmaats luidrugtig op die veld aangemoedig, wat aan Makhaya Ntini van ouds herinner het. KHS se kolwers het gefrustreerd begin raak en dit is toe waar die boulwerk van WL Fourie intree toe hy Van der Watt met ‘n streepbal skoongeboul het.

Die vreugde het verdubbel toe Eddie Coetsee met sy draaibal vir Vorster 28 (67) voor die penne betrap het. KHS se Franco van der Walt was die volgende slagoffer van goeie veldwerk met Volkies se kaptein, Jandré Dreyer, wat ‘n uitstekende vangskoot van die boulwerk van Jacques Bouwer benut het. Die wiele het behoorlik van KHS se krieketvoertuig begin afval nadat Tiaan Joubert na ‘n goeie 46 deur David Crowther uitgehaal is.

Die 171/4 het blitsvinnig na 208 almal uit verander, wat ‘n kombinasie van goeie boulwerk en swak houkeuses ingesluit het. Volkskool se Jacques Bouwer (3/37) en die Crowther broers, Cobus en David, albei met 2/33 na 10 boulbeurte, was die beste boulers van die dag. Met Dreyer en Vincent Viljoen aan die stuur van sake sou Volkskool positief wees dat hulle ‘n goeie begin met die kolf sou hê. JP Serfontein het wel ander planne gehad en vroeg van Viljoen ontslae geraak. Hy het ‘n paar beurte later vir Dreyer en Ruan van Abo in agtereenvolgende balle ook kleedkamer toe gestuur.

Sake het nie vir Volkskool verbeter toe Herman Prinsloo vir 8 uitgehardloop is met die telling op 64/4 nie. Louw en David Crowther het toe met ‘n 95 lopie vennootskap sake herstel. Dié paar het indrukwekkend gekolf en vasberadenheid getoon. KHS se Van der Wat het wel hierdie vennootskap beëindig met ‘n verdere paaltjie en Volkies was amper in die leeu se bek.

Fourie en Cobus Crowther het egter rustig die nodige lopies geslaan wat vir Volkies afrigter, Andries Huisamen, seker soos ‘n ewigheid gevoel het. Dit was nie ‘n wegholoorwinning nie, maar dit het beslis karakter gebou. Nou staan Potchefstroom gereed vir ‘n titaniese stryd volgende maand!

•Volkies se o.15’s speel ook uitmuntende krieket. Hulle het Lichtenburg in die halfeindstryd verlede Donderdag met 294 lopies afgeransel. Volkskool se Martin Fourie het met 164 uitgeblink in hulle telling van 380/9, terwyl Robbie de Villiers met 3/21 en Jannie Claassens met 3/24 vir Lichtenburg vir slegs 86 uitgeboul het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button