SportSport

Helpmekaar stuit beide Volkies en Gimmies in Beeldtrofee-eindstryd

Dit was ’n kwessie van amper stamper vir al drie Potchefstroomspanne in verlede Saterdag se Beeldtrofee vir Grootskole eindstryde wat by Helpmekaar Kollege plaasgevind het. Potchefstroom Gimnasium se eerste span het in ’n fantastiese wedstryd met 30-27 teen Helpmekaar se bruin masjien die knie gebuig. Gimmies se o.16’s het erger pakslae van dieselfde skool gekry …

Dit was ’n kwessie van amper stamper vir al drie Potchefstroomspanne in verlede Saterdag se Beeldtrofee vir Grootskole eindstryde wat by Helpmekaar Kollege plaasgevind het.

Potchefstroom Gimnasium se eerste span het in ’n fantastiese wedstryd met 30-27 teen Helpmekaar se bruin masjien die knie gebuig. Gimmies se o.16’s het erger pakslae van dieselfde skool gekry met ’n 55-24 loesing.

Hoër Volkskool Potchefstroom kon wel ook nie hulle 22-0 voorsprong in ’n wen afrond nie, en het na ’n tragiese tweede helfte met 24-22 verloor. Helpies het verlede naweek sodoende drie trofeë ingepalm en kan met reg as een van die top rugbyskole in die land gereken word.

Dit was egter nie vir Gimnasium en Volkies nodig om stert tussen die bene huiswaarts te keer nie. Die vasberadenheid, spangees en passie gedurende die uitdagende seisoen is iets om op trots te wees.
• Gimmies se eerste span het in ‘n aanskoulike wedstryd verbeter teen Helpmekaar teruggeveg, sodat hulle met twee driëe ‘n agterstand ingehaal het. Gimmies se heelagter, Jaswyn Damon, was op sy stukke en het met sy drie verseker dat die telling met ‘n paar minute speeltyd oor op 27-27 gestaan het. Sy eweknie, Chuiner van Rooyen het met ‘n strafdoel geslaag om die telling 30-27 in Helpmekaar se guns te swaai. Damon het wel met die laaste skop van die wedstryd die pale met sentimeters gemis toe Gimmies ‘n stafskop gekry het. Damon was in sak en as en Helpmekaar se Van Rooyen het glorie geproe.

Christo van der Westhuizen, Gimmies se afrigter, was wel vol lof vir sy span se prestasies en vernuf dié seisoen. “Ons moet ook krediet aan Helpmekaar gee. Hulle span het ‘n uitstekende wedstryd gehad en die wedstryd is deur albei spanne op ‘n hoë vlak gespeel. Rugby het op die ou einde gewen,” het hy bygevoeg. Gimmies moes ook al hulle wedstryde in die Beeldtrofee weg speel en het uitstekend presteer, gesien in die lig daarvan dat hulle elke naweek op vreemde grond moes uithaal en wys. “Die wedstryd kon enige kant toe gegaan het. Natuurlik was die spelers teleurgesteld, maar hulle kan getroos word dat hulle die Luiperdtrofee gewen het, asook een van die top 20 rugbyskole in die land is,” meen Van der Westhuizen.

• Volkies het in die o.15 finaal ‘n harde les geleer dat ‘n span altyd moet speel tot die eindfluitjie blaas. Volkies het 22-0 teen halftyd voorgeloop, maar 24-22 verloor. “Ons het die hele wedstryd voorgeloop, net na rustyd, 22-0. Ons verloor toe letterlik in die laaste sekonde van die wedstryd. Hartverskeurend,” het Christo van Heerden, afrigter van Volkies vertel.

Volkies se puntemakers was agtsteman, Marno Prigge, slot, André Smit en die vleuel, Donovan Botha wat drieë gedruk het. Kaptein, Kobus Burger, het met sy skoen twee doelskoppe en ‘n strafskop oor die pale gejaag.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button