Proteas sukkel in Potchefstroom

AB de Villiers en sy Proteatroepe het verlede Sondag soos seuns tussen manne gelyk tydens hulle agt paaltjie nederlaag teen Nieu-Seeland op Senwes Park. Daar was geen lood in Suid-Afrika se pype nie en Nieu-Seeland kon die krieketoorlog met gemak wen om die reeks gelykop na 1-1 te bring na dié oortuigende oorwinning. Die skare …

AB de Villiers en sy Proteatroepe het verlede Sondag soos seuns tussen manne gelyk tydens hulle agt paaltjie nederlaag teen Nieu-Seeland op Senwes Park.

Daar was geen lood in Suid-Afrika se pype nie en Nieu-Seeland kon die krieketoorlog met gemak wen om die reeks gelykop na 1-1 te bring na dié oortuigende oorwinning.

Die skare was met reg teleurgesteld en moes aanskou hoe Suid-Afrika klaarblyklik die wit vlag begin hys het met ‘n swak kolfvertoning en daaropvolgende lewenslose poging in die veld. Die Suid-Afrikaanse kolwer Farhaan Behardien was wel een lig aan die einde van die tonnel nadat die span se kolwers nes ‘n Prasa-trein ontspoor het. Behardien het 70 vanaf 87 balle geslaan wat vyf viere en een ses ingesluit het.

Behardien het gedurende sy beurt meestal op enkelopies die telbord stadig laat aanskuif het. Adam Milne (2-39) en Doug Bracewell (3-31) was die uitstekende boulers vir die Black Caps en het met spoed en vaart onder die kolwers ingeklim. Suid-Afrika het gedurende hulle kolfbert gedurig op kritieke oomblikke hulle paaltjies verloor en kon slegs een vyftig lopie vennootskap aanmekaarslaan toe Behardien en Philander om die sewende paaltjie broodnodige herstelwerk begin het.

Dit het begin lyk of die Proteas miskien ‘n paar goeie laaste boulbeurte sou beleef maar hulle het hulle laaste vier paaltjies vir slegs 16 lopies verloor. Dit was grootliks aan swak kommunikasie en onmoontlike hardloopkanse te danke. Suid Afrika kon slegs 204 almal uit aanteken en was halfpad alreeds in die moeilikheid, tensy Dale Steyn en kie ’n merkwaardige boulaanslag op die Black Caps kon uitvoer. In plaas daarvan dat die Proteas se groot kanonne teen Nieu-Seeland gevuur het, het die span hulself telkemale in die voet geskiet met drie verbroude vangkanse.

Aaron Phangiso was die eerste skuldige een wat Nieu-Seeland se Martin Guptill van sy eie boulwerk laat val het. Dit was ‘n baie duur fout, aangesien Guptill met sy honderdtal die wenlopies gemoker het. David Wiese het ook n maklike vangskoot verbrou toe Guptill op 40 was. Die bouler, Imran Tahir was glad nie tevrede nie.

Tahir het wel die eerste paaltjie geneem toe hy Tom Latham kleedkamer toe gestuur het met laasgenoemde op 64. Teen daardie tyd was die koeël wel deur die kerk en Nieu-Seeland het met een voet in die oorwinningdeur gestaan na n rekord eerstepaaltjievenootskap van 126 lopies.

“Ons is teleurgesteld omdat ons nie goed gespeel het en ons mylpale in ons kolfbeurt nie gehaal het nie,” het Behardien na die wedstryd tydens ‘n perskonferensie vertel.

“Ons was desperaat om die wedstryd te wen om die reeks met 2-0 te kon vastrek. Ons is bitter teleurgesteld en ons gaan ons beste spelpeil na die wedstryd in Durban moet bring,” het Behardien genoem.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version