Photo GalleriesSportSportSports Galleries

NWU Vaal se jonges bly op wenkoers

VANDERBIJLPARK. - Die NWU Vaal se o.21-rugbyspan het dit Saterdagmiddag op sy tuisveld ses uit ses gemaak toe hy Springs met 48-24 in die Valke se Peregrine-liga geklop het.

VANDERBIJLPARK. – Die NWU Vaal se o.21-rugbyspan het dit Saterdagmiddag op sy tuisveld ses uit ses gemaak toe hy Springs met 48-24 in die Valke se Peregrine-liga geklop het.

Die span beklee tans die boonste sport op die punteleer, nadat hy Saterdag sy sesde opeenvolgende oorwinning behaal het. Hoewel die klub se eerste span met 33-21 verloor het, het die studenteklub in geheel ’n bevredigende naweek teen Springs beleef.

Die studente se tweede span het sy posisie op die punteleer verstewig toe hy die besoekers in ’n aanskoulike wedstryd met 46-24 streepsuiker gegee het. Wat die eerstespan-kragmeting betref, was die besoekers van die Oos-Rand soos ’n resiesperd uit die wegspringblokke. Die besoekers het vinnig 19 onbeantwoorde punte aangeteken. Die tuisspan het met tye goeie rugby gespeel, maar te veel besit op kritieke tye afgestaan.

Springs se hardebaard-agttal het die studente flou gedryf en sy giftige agterlyn het elke geleentheid in punte omskep.
Na die aanvanklike blitsoorlog het die studente teruggeveg om uiteindelik die onderspit met 33-21 te delf. In die Merlin-liga het die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) se eerste rugbyspan Saterdag op die Isak Steyl-stadion vir Elsburg met 24-5 geklop. VUT kom eerskomende Saterdag op sy tuisveld teen Nigel, die pasaangeer in die liga, te staan.

Skolerugby
In die Valke se liga om die Beeldtrofee vir makroskole het die eerste rugbyspan van Vereeniging Gimnasium vir Jeugland met 53-7 ’n rugbyles gegee.
In die grootskole-afdeling het Heidelberg Volkies vir Oosterlig met 18-0 geklop en Hugenote het Hans Moore met 43-3 geklop.
In die afdeling vir mediumskole het Afrikaans Hoër Sasolburg vir Suiderlig met 53-0 kaf gedraf, terwyl die Hoërskool Dr. Malan met 23-22 teen die HTS Sasolburg deurgeskraap het. Die kwarteindronde van die Valke se onderskeie ligas om die Beeldtrofee vind eerskomende Saterdag by Hans Moore en Benoni High plaas.

Ander uitslae: Makroskole: o.16: Vereeniging Gimnasium 45, Jeugland 7. o.15: Vereeniging Gimnasium 38, Jeugland 7. o.14: Jeugland 48, Vereeniging Gimnasium 0.
Mediumskole: o.16: Dr. Malan 33, HTS Sasol 12. o.15: HTS Sasol 28, Malan 10. o.14: Malan 45, HTS Sasol 10.

Related Articles

Back to top button