Overs open nuwe vleuel

‘n Pragtige nuwe vleuel van een van die oudste manskoshuise op die Potchefstroomkampus is onlangs amptelik ingebruik geneem. Over de Voor het met die bou van dié vleuel 109 nuwe beddens bygekry. Die primarius, PD Theron, het gesê dié bykomende inwoners gee hulle nou die nodige getalle om beter op sportgebied met die ander groter …

‘n Pragtige nuwe vleuel van een van die oudste manskoshuise op die Potchefstroomkampus is onlangs amptelik ingebruik geneem.

Over de Voor het met die bou van dié vleuel 109 nuwe beddens bygekry. Die primarius, PD Theron, het gesê dié bykomende inwoners gee hulle nou die nodige getalle om beter op sportgebied met die ander groter manskoshuise mee te ding. Overs het voorheen slegs 144 inwoners gehad.

Sowat R15 miljoen is bewillig vir die bou van die nuwe vleuel, wat tans as die Noordelike vleuel bekend staan. Bouwerk het sowat ‘n jaar geduur en vanjaar kon die eerste nuwe intrekkers hulle daar tuismaak.

Die koshuisvader, mnr. Rooies Adrianatos, het gesê die koshuis is tans 53 jaar oud en die naam was aanvanklik “Over’t Voor”, so genoem omdat ‘n watervoor tussen die koshuis en die res van die kampus geloop het. Volgens ‘n notule van 22 Mei 1962, was ds. JF du Plooy die skepper van die naam, Over de Voor.

‘n Oud-inwoner, prof. Johan Rost, voormalige uitvoerende direkteur: finansies en fasiliteite van die NWU, het die amptelike opening waargeneem. Hy het gesê Overs het ‘n trotse geskiedenis en dat talle bekendes in die land daar as jong manne geslyp is. Onder hulle is die huidige voorsitter van die NWU-Raad, adv. Johan Kruger, dr. Leon Wessels en dr. Pieter Mulder.

Hy het die inwoners gemotiveer en gesê hulle moet nou die tyd uitkoop om mense kennis op te doen. “Moenie vir omstredenheid in die nuus wees nie, wees positief en doen die regte ding op die regte tyd, sodat ons kleinkinders ook hier kan woon.”

PD het verder gesê dit was vir hulle moeilik om die grasperk voor die koshuis prys te gee, maar dit is alles die moeite werd.

Exit mobile version