KYK: Brandstigting dalk rede vir Noordwes brande

Die saak word tans ondersoek.

‘n Video is Sondag deur Mooirivier Beskerming op hulle Facebook-blad gedeel waar verdagtes ‘n stuk gras in ‘n woonbuurt aan die brand steek.

Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, sê dit is deesdae ‘n algemene gebeurtenis.

“Ons het hierdie jaar reeds soveel verwoestende veldbrande gehad, wat erge nadelige uitwerking op mense se lewens gehad het. In die dorp sien ons en ontvang ons verskeie klagtes van mense wat ewekansig veldbrande aansteek. Ons het Sondag weer gesien hoe ‘n voertuig langs die pad stilhou, die veld aan die brand steek en wegry.”

Christiaan sê hierdie is ‘n mors van kosbare hulpbronne, wat vir ander noodgevalle beskikbaar kon wees.

Die vraag bly egter kan hierdie lukrake brandstigting die rede wees vir die afgelope tyd se menigde veldbrande.

Kobus Roux, voorsitter van die Noordwes Brandbeskermingsvereniging, sê wat mense nie besef nie, is volgens die Suid-Afrikaanse weerburo, bevind ons onself elke dag in ‘n rooisone met die hitte en windsnelhede van 30km plus. Dus kan dit astronomiese skade doen.

“Ek is hoogs ontsteld om van die brandstigting te hoor. Dit is binne dorpsgebied gedoen, so alle bewyse, videos ens is aan die openbare veiligheid van die Brandweer gegee. Hulle is besig om daarmee te werk en van ons kant af dring ons aan dat hierdie mense aangekla word. Mag die wet hulle so hard as moontlik slaan,” meen hy.

Kobus lig ook paar belangrike punte oor dié tipe kwaadwillige brandstigting uit.

“Wat is die doel daarvan om die veld aan die brand te steek en dan weg te ry? Geboue gaan moontlik kan afbrand. Mense kan moontlik hulle lewens verloor. Diere in die omgeweing kan seer of selfs doodbrand. Mens moet al daardie dinge onthou. Dan natuurlik moet die brandweer ook uitkom om die vuur te kom blus, waar die brandweer eerder kon uitgaan na ‘n ongeluk of ‘n groot brand toe. Dit is ‘n vermorsing van geld en hulpbronne.”

Lynette Pienaar het op Facebook gesê: “Die mense is aspris ek hoop hierdie mense kry ‘n helse boete of ‘n paar aande in ‘n sel.”

“Daai is nie vir die fun aangesteek nie, hulle doen dit met ‘n doel.  Dis als ‘n doelgerige plan. Brandstigting en poging tot moord,” het Pierre Diederiks op sosiale media gesê.

Jy kan hier na die videos kyk.

 

Exit mobile version