BlogsLocal newsOpinions

Uit Piet se pen: Koos wil nie gaan rus nie

“Groot Koos was groter as wat ‘n mens normaalweg dink as iemand sê iemand is Groot. Dit wat jy nou dink, moet jy met drie maal om by Koos uit te kom.

Ons drie sit weer daar in die tapmeester se geselskap, dis ek en Piet en Hennie, daar in ons laatmiddag kuierplek, toe Willie instap terwyl ons van groot mense praat. Nie groot in aansien nie maar groot van postuur, soos sommige voormalige boksers en stoeiers. Kyk, Willie is klein van postuur maar groot as dit by stories kom en hy vertel ons van Groot Koos.

Hy vertel: “Groot Koos was groter as wat ‘n mens normaalweg dink as iemand sê iemand is Groot. Dit wat jy nou dink, moet jy met drie maal om by Koos uit te kom. Koos het altyd smiddae daar by ons hotelletjie op die walle van die Vaal kom lafenis soek, maar so met die inkom het hy so sewe kroegstoele nadergetrek vir sitplek, en dan was ek nog die heeltyd op my senuwees dat die spul gaan meegee.

Koos het ook nie gesukkel met singles of dubbels nie. Nee, vir Koos knak jy ‘n bottel, stoot ‘n bak ys nader en sit sommer ‘n 2 liter miks ook neer. Dan werk Koos die spul so stadig in. En bewaar jou siel as daar nie snacks is nie: tjips of peanuts of altyd op ‘n Vrydag: gekerfde biltong met ‘n gesonde vetjie, of witvleis, soos Koos dit genoem het.

So het Koos gelewe en sy Hilux se vere en skokbrekers gereeld flenters gery, maar Koos het suksesvol geboer en kon altyd regmaak. Hulle sê hy het later die stuurwiel se stang laat korter maak om alles agter die stuur in te kry. Maar toe kap Koos eendag net om.

Nie eintlik siek gewees nie, nie eers behoorlik verkoue gekry in die winter nie. Die dokter het gesê geen menshart kon meer die bloed deur die massiewe liggaam gepomp kry nie en hy dink die hart het opgegee, bearings geslaan of net gesiez (vasgebrand).

Die ergste het nou voorgelê: Koos moes gebêre word.

Daar was geen kans dat enige van die ondernemers ‘n kis van Koos se afmetinge sou hê nie. Ek, as die plaaslike timmerman, moes maar inspring en na gedagte ‘n kis aanmekaar sit.

Stewige hout gebruik en goeie lym en skroewe en lang spykers.

Die standaard lykswa sou ook nie deug nie, daarom is Oom Gert se drieton Fordjie opgekommandeer, die een met die platbak. Op die gegewe dag, dis na daar met ‘n bekêkter ‘n gat gegrawe is, is Koos met behulp van baie sterk manne op die Fordjie gelaai.

Tot sover het alles goed gegaan. Dis met die aflaaislag by die kerk waar dinge verkeerd geloop het. Na die draers so tien tree gevorder het, het die kis begin kraak. Onaardse geluide gemaak en toe val die boom en Koos uit. Oorle Koos was darem stigtelik geklee in sy beste nagkabaai.

Onuitspreeklike chaos.

Die manne het hand gegee en met baie moeite het ons Koos weer op die lorrie gekry en die kis onderstebo op hom neergesit ter wille van die stigtelikheid en terug plaas toe gejaag. Ons het hom, wat nie wou gaan rus nie, wel later gebêre gekry, maar eers na ek die welder nadergetrek het en stewige ysters om die kis getrek het en ons hom met ‘n hyskraan laat sak het.

Sommer direk in die gat. Die dominee het sommer daar by die gat kom praat.

Toe rus Koos.

Related Articles

Back to top button