LetterOpinions

Lesersbrief: Wat meer moet ‘n krieketspeler doen om erkenning te kry?

Ongeag hoe ons na hierdie situasie kyk, en nie net bloot vir hierdie betrokke individu nie, maar vir alle aspirant krieketspelers, moet ons pro-aktief raak en die status quo ernstig begin bevraagteken.

Johan Vorster skryf…

Diaan van der Merwe, eerstespan speler van Hoër Volkskool Potchefstroom, moet wonder wat moes hy nog meer gedoen het om vir die Noordwes o.16 krieketspan gekies te word.

Miskien wonder hy wat het hy verkeerd gedoen dat sy prestasies vir sy 1ste span totaal geen gewig of bydrae gemaak het om sy insluiting te regverdig of ten minste te motiveer nie.

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/115644/fotos-volkies-se-boulers-draai-gimmies-om-hul-pinkie-in-ongelooflike-nw-eindstryd/

In sy vyf NW Premier Liga A divisie-wedstryde het Diaan boulsyfers van 1/22(5) / 5/36(8) / 5/19(8) / 1/17(4) / 5/24(9) semi-finaal / 6/7(8) finaal gelewer wat enige keurder se aandag moes getrek het.

Benewens sy fenominale prestasies in die NW Premier Liga A divisie het Diaan ook twee vyftigtalle in die Kenneth Kaunda proefwedstryde gemoker.

Diaan was ook een van die uitblinkers vir Volkies se 1ste span in die onlangse Noord-Suid T20 toernooi waar Volkies 2de geëindig het.

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/113677/volkies-se-krieketspanne-maak-maalvleis-van-khs/

Op die toernooi het Diaan 8 paaltjies ingeoes in die 22 beurte wat hy geboul het teen ‘n gemiddeld van 5.72 lopies per beurt. Dit opsigself is ‘n fenominale prestasie gegewe die kwaliteit opposisie waarteen hy gespeel het en natuurlik die formaat van T20 krieket.

Hoe is dit moonlik dat ‘n speler van so ‘n hoë gehalte totaal misgekyk is en glad nie eers oorweeg was nie?

Die moeilike vrae moet gevra word en daar moet vasgestel word wat is die proses en kriteria wat gevolg word. ‘n Proses waarin spelers moet glo en vertroue in moet hê, het heel waarskynlik meer skade as goed gedoen vir hierdie betrokke speler.

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/116262/volkies-se-eerste-krieketspan-bereik-half-eindstryd-van-noordvaal/

Ek kan ook nie help om te dink dat daar dalk nog ander spelers is wat hulself in ‘n soortgelyke posisie bevind nie. Het ons dalk ‘n punt bereik waar daar nie genoegsame kennis, ervaring of bevoegheid is binne die NW skolesisteem nie, of is dit bloot ‘n geval van waar ‘n sterk posisie van skoolvoorkeur vir bemarkingsdoeleindes en werwing die bepalende faktor is?

Ongeag hoe ons na hierdie situasie kyk, en nie net bloot vir hierdie betrokke individu nie, maar vir alle aspirant krieketspelers, moet ons pro-aktief raak en die status quo ernstig begin bevraagteken. Insidente soos die sal ‘n groot invloed hê op NW skolekrieket nommers en veral spelers self wat dit dan sterk sal oorweeg om weg te loop van hierdie wonderlike sport.

Related Articles

Back to top button