LetterOpinions

Ek is diep teleurgesteld in Potchefstroom

Kom ons praat reguit. As ’n bekende sanger opgetree het was die hele saal gepak.

Hugo Storm skryf:
Ek skryf hierdie brief met groot hartseer en gemengde gevoelens.
Eerstens wil ek net baie dankie sê aan die ses wonderlike borge in Potchefstroom wat bereid was om my by te staan tydens die reëlings van die vertoning wat op 24 November vanjaar by die Elgro hotel plaasgevind het.
Ook ’n groot dank aan Evan wat as medesanger die aand sou optree. Ten spyte van al die reëlings en borge om hierdie vertoning moontlik te maak om ’n groepie karwagte se Kerstyd op te helder, was die optrede ongelukkig onsuksesvol. Slegs 10 mense het hierdie optrede bygewoon.
Kom ons praat reguit. As ’n bekende sanger opgetree het was die hele saal gepak. Net omdat daar onbekende sangers opgetree het, om vir ’n groepie mense Kersfees op te helder, het so te sê niemand belang gestel om die vertoning te ondersteun nie. Mense gebruik die swak ekonomie as verskoning, maar wat vat dit van mense om net bietjie menslikheid te toon?
Dit is tog waaroor die Kerstyd gaan. ’n Tyd van liefde, vreugde en ook om te wys ons gee om.
Almal kla oor swaarkry, maar het hulle al gedink dat daar mense is wat nog minderbevoorreg as hulle is in hierdie Kersgety?
Ek is regtig erg geskok dat mense nie belang gestel het om hierdie vertoning, wat gereël was vir ’n goeie doel, te ondersteun nie.
Ek wens almal ’n geseënde Kerstyd en ’n voorspoedige 2019 toe, maar dink asseblief aan die mense wat nie die voorreg het om ’n vrolike feestyd te beleef nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button