BlogsOpinions

Waarom help niemand nie?

My kommentaar wat in die week se Potchefstroom Herald gepubliseer is.

Die Herald het verlede week (9 November) oor die 104 huishoudings van Wyk 9 tussen Mohadin en Greenfields in Ikageng berig. Lesers wat nog nie hierdie artikel gelees het nie, kan gerus daarna gaan kyk.

Ons is geneig om neer te kyk op mense wat optogte in die strate hou, bande brand en paaie versper en toemaak, maar plaas jouself in dié inwoners se skoene.

Vir die afgelope vyf jaar het die gemeenskap van Wyk 9 geen elektrisiteit, rioolstelsels of lopende water nie – behalwe vir twee krane wat gedeel moet word deur al die huishoudings. Hulle wag ook steeds vir die HOP huise wat aan hulle belowe is toe hulle van ander informele nedersettings na dié gebied geskuif is.

Hoeveel mense wat hierdie artikel gelees het, kan sê dat hulle nie ’n toilet het om te gebruik as die nood daar is nie?
’n 9-jarige dogtertjie het aan die Herald gesê dat sy nie in die nag bosse toe wil gaan as sy ’n nood het nie, want sy is te bang. Dan hou sy maar uit tot die volgende oggend. Sy gebruik ook ’n paraffienlampie om in die aand haar skoolwerk te doen.

Hoeveel studente of leerders kan vandag sê dat hulle sonder toiletgeriewe of elektrisiteit deur hul skoolloopbaan sou kom – of selfs net sou probeer?

Hierdie mense het nie ’n stem nie, en maak nie saak hoe hard hulle om hulp roep nie, steeds word hulle al vir die afgelope vyf jaar net so in hul omstandighede gelos om self te moet probeer oorleef.

Is dit nie deel van jou menseregte om hierdie basiese dinge soos elektrisiteit, ’n dak oor jou kop en lopende water te kan geniet nie? Miskien moet die verskillende politieke partye in ons land ophou om met mekaar te veg oor wie in beheer moet wees en eerder, net vir ’n sekonde, kyk na die mense wat die swaarste kry.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button