BlogsOpinions

Katjies en hul dinge: My kat het dwergkatsindroom

Die feit dat ʼn katjie van 6 maande oud nog steeds klein genoeg is om op my skouer te sit, maak nie sin nie.

Sweeney is klein…piepklein. Ons vermoed hy het die een of ander miniatuur geen in hom. Die feit dat ʼn katjie van 6 maande oud nog steeds klein genoeg is om op my skouer te sit, maak nie sin nie.

Hy was baie klein en fyn toe ons hom sowat 4 maande terug by PAWS gaan haal het, maar het tot vandag toe nog nie aansienlik baie gegroei nie. Ek het eers gedink die rede dat dit lyk asof hy nie groei nie is omdat ek hom elke dag sien, maar ʼn vriend van my was vir twee maande in Pretoria en toe hy onlangs kom kuier was sy eerste reaksie: “groei die kat dan glad nie?”

Hy is klein en fyn maar steeds baie gesond en spelerig. Hy eet ook meer as wat ek sou dink hy kon. Om die waarheid te sê die katjie van my is perdfris en gesond – hy lyk net baie tingerig. Die feit dat hy so klein is het nou al amper ʼn toeristeaantreklikheid by my huis veroorsaak. As mense daar kom wil hulle net heeltyd die katjie optel. Hulle gaan dan ook heen en vertel al hul vriende en kennisse van Sweeney en as ek weer sien sit my arme baba kat op ʼn vreemde man se skouer terwyl ʼn ander een hom versmoor in soene. Ek weet hy is oulik maar rêrig mense – hy is MY babatjie!

Miskien kom sy groeihormoon nog by en laat hom sommer oornag na ʼn volwasse kat se grootte lyk. Alhoewel ek hou van die idee dat hy dalk vir ewig so klein gaan bly. Sweeney die dwergkatjie – dis rêrig iets waaraan ek gewoond kan raak.

Sweeney se hele lyfie pas amper in my hand in - en ek het nie baie groot hande nie!
Sweeney se hele lyfie pas amper in my hand in – en ek het nie baie groot hande nie!

Related Articles

Back to top button