BlogsOpinions

Katjies en hul dinge: Naam-kapades

Die doen en late van my katkind...

Om ‘n naam te kies is glad nie so maklik soos wat dit lyk nie. As dit was, sou daar nie so baie naamboeke bestaan het nie. Name vir dogters, Name vir seuns, Top 100 seuns en dogtersname, 1000 Babaname, Eksotiese babaname, Noorse Babaname… nou goed ek kan so aangaan tot my vingers nie meer kan tik nie.

Die groot probleem is, hoe kies jy ‘n naam vir ‘n troeteldier wat jy nounet eers ontmoet het? Ek dink dis seker makliker vir ‘n ma om aan ‘n naam te dink vir haar babadogtertjie, aangesien sy nege maande gehad het om daaroor te besluit. Sy voel seker aan watter tipe mensie dit gaan wees, en kies ‘n naam wat hom of haar die beste gaan beskryf. Miskien besluit sy om ouma-grootjie terug te bring deur die kind na haar te vernoem… wel dis nie so maklik met ‘n katjie nie. Ek ken nie die dingetjie nie, en die naam wat ek oorspronklik wou gebruik is klaar gevat (rus in vrede Stoffel).

So die klein grootbek wit kieter klou met al wat hy werd is aan my skouer terwyl die man by Paws sy mikroskyfie op die web registreer, en ons kom toe by die punt waar hy my vra: “nou wat is die katjie se naam?”. Wel ek weet nie… sit hom maar eers op as naamloos, want ek kon nog nie aan ‘n naam dink nie. Ek voel soos ‘n idioot op pad huis toe omdat die bondeltjie liefde op my skoot nog geen identiteit het nie. Hoe meer hy vir my kyk, hoe meer begin ek skuldig voel. “Gee my net ‘n naam, dit kan nie so moeilik wees nie?” sê die dingetjie met oorgroot oë.

Ek besluit toe om my huismaats vir idees te vra. Billy, Kenny, Kasperhoff… wie weet wat nog daar sou uitkom. Ek en Keanu besluit toe om Noorse name te Google, (ek is ‘n groot Vikings aanhanger), maar niks het lekker by die katjie gepas nie. Wat van Obi… Tyrion… Smaug… ai ek weet nie meer nie… wat van Sweeney? Soos Sweeney Todd? Wel ek is mal oor Sweeney Todd… Tim Burton se meesterstuk is seker ‘n goeie fliek om my nuwe baba na te vernoem?

Ja Sweeney… en so het Sweeney uiteindelik, na ‘n dag en ‘n half se geskarrel ‘n naam gekry. Les vir die toekoms: Kyk genoeg flieks… dan sal jy altyd ‘n naam vir elke troeteldier hê.

Related Articles

Back to top button