BlogsOpinions

High 5 – Waterlekke in Potcheftsroom

En die top vyf waterlekke in Potchefstroom is...

So ek dink dis veilig om te sê dat Potch se strate nou totaal en al oorgeneem word deur waterlekke. Ek is al bekend as die waterlekmeester by die Herald, en word op ‘n daaglikse basis deur een of ander histeriese huisvrou gebel wat wil seker maak ek dra kennis van die reuse waterlek buite haar huis (waarokal dit dan nou mag wees). Ek het al so ver gegaan as om op my bromponie te klim en die strate van Potchefstroom in te vaar met die hoop dat ek NIE ‘n waterlek gaan raakry nie – maar ongelukkig is daar een om elke draai. Hier volg die top 5 waterlekke in Potchefstroom:

5. Piet Cronjestraat. Hier borrel die water deur die verkrummelde teer in die pad. Ek wonder of die stadsraad iets sal begin doen as die pad stuk stuk begin verdwyn?

Foto: Marianke Saayman
Foto: Marianke Saayman

4. Paulstraat. Ek het dié waterlek vir die eerste keer laas jaar afgeneem, en was nie verbaas om te sien dat dit steeds nie reggemaak is nie.

Foto: Marianke Saayman
Foto: Marianke Saayman

3. Orcherselaan. Sekerlik weet niemand waar hierdie straat is nie want dit is so bietjie weggesteek. Ek is net die ongelukkige een wat elke oggend die einste pad moet werk toe ry. Ek kan nie eers meer sien waar die gat is nie, omdat die hele pad toe is onder die water, so my rit werk toe is baie raaiselagtig: gaan ek dit maak, of gaan ek wakker word onder in ‘n reuse slaggat?

Foto: Marianke Saayman
Foto: Marianke Saayman

2. Elsenbroekstraat. Dié straat in die industriele gebied maak my al van verlede jaar mal. Net sodra ek ‘n foto van die lek gaan neem het, bel ‘n ander omie van een van die besighede in die straat my: “meisiekind, jy moet kom kyk… hier’s ‘n helse lek!”

Foto: Marianke Saayman
Foto: Marianke Saayman

1. N12 rivier. So die waterpyp wat verlede week langs die N12 gebars het, het die naweek weer gebars. Ek dink nie dis heeltemal slegte nuus nie want ons kan nou geklassifiseer word as seker die enigste stad met twee riviere!

Foto: Dustin Wetdewich
Foto: Dustin Wetdewich

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button