BlogsOpinions

Uit my dagboek, Nuwe Pa, Wag vir die waglys

Ek het onlangs tot my skok agtergekom dat ons reeds oor Aiden se toekoms moet besluit wanneer hy gebore word.

Ek het onlangs tot my skok agtergekom dat ons reeds oor Aiden se toekoms moet besluit wanneer hy gebore word.
Daar is kleuterskole in die stad wat ’n drie jaar wagperiode het. Hoewel ons gelukkig was om hom by ’n kleuterskool in te kry op vier maande, het ons gedink om hom te skuif na een bietjie nader aan die huis wanneer hy ouer is. Baie van die kleuterskole neem eers kinders van drie jaar oud in. Per toeval het ons uitgevind dat die skool waarheen ons hom wou vat, ’n drie jaar wagperiode het. Toe my vrou hom nog geborsvoed het, moes ons hom eintlik al ingeskryf het. Dit is nie die einde van die wêreld nie, maar daar is ’n tendens dat as jy na ‘n sekere kleuterskool toe gaan, word dit aanvaar dat jy na ’n spesifieke laerskool sal gaan. Bloot vir die feit dat al die maatjies dan na daardie laerskool toe gaan. Dit is dan nog verder aanvaar dat as jy in ’n sekere laerskool is, jy aan die einde van die dag na ‘n spesifieke hoërskool toe sal gaan. Hoewel mens seker steeds kan besluit, bepaal die eerste keuse van kleuterskool amper Aiden se hele skoolloopbaan. Daar is nie ’n tekort aan kleuterskole nie, maar daar is ’n wanpersepsie dat ’n kind na ‘n spesifieke kleuterskool toe moet gaan om by ’n spesifieke laerskool in te kom. Hoewel dit nie regtig die geval is nie, wil mens jou kinders in die skool van jou keuse kry met so min moeite moontlik.
Ek wens dit kon nog so gewerk het soos toe ek skool toe moes gaan. My ouers het besluit dat ek Laerskool Noordvaal toe moet gaan. Die dag wat die skool begin het, het hulle my skool toe geneem. Met my nuwe grys pakkie en tas in die hand is ek in ’n klas ingedeel. So het my skoolloopbaan begin, nie die dag toe ek gebore is nie.
Ons in Potchefstroom is darem gelukkig aangesien al die skole in die stad goeie skole is. Ons is ietwat bederf, so ek gaan nie my kop daaroor breek nie, want waar ookal Aiden ‘n plek kry, sal ’n goeie skool wees.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button