OpinionsOre

Hoe sê Ore?

Glo nie dié teorie Ore het nogal aan die media gedink toe hy die storie op TV sien oor Homo Naledi. Dis mos oor die fossiele van een van ons voorsate wat onlangs weer in die Wieg van die Mensdom gekry is. Die teorie is dat die klomp fossiele wat so bymekaar gekry is, dui …

Glo nie dié teorie

Ore het nogal aan die media gedink toe hy die storie op TV sien oor Homo Naledi. Dis mos oor die fossiele van een van ons voorsate wat onlangs weer in die Wieg van die Mensdom gekry is.
Die teorie is dat die klomp fossiele wat so bymekaar gekry is, dui op ’n begraafplaas van ’n soort.
Ore stem saam met ’n ander proffie wat sê dis twak. Ons voorsate se brein was nog te klein om sulke goed uit te dink.
Hulle het bloot in die grot gewoon en het skielik toegeval.
Nes die media baie doen, kon die ontdekkers darem nie dat feite met ’n goeie storie inmeng nie.
Die teorie oor die begraafplaas klink darem net beter!

Vuil park

Ore weet nie hoe gereeld onse stadsvaders op die Bult kom nie, maar Ore vermoed dit is nie baie gereeld nie.
Nie as Ore dit moet toets aan hoe vuil Cachetpark veral Maandagoggende is nie.
Toe Ore daar verby is, was dit vieslik vuil en dit was Dinsdagoggend steeds net so vuil.
En die verlate ATKV verhoog het nou ’n slaapplek vir straatkinders en boemelaars geword. Ore wonder hoe veilig studente wat daar verbyloop, nog is?

Stopstrate

Ore is verlig dat die stopteken op die hoek van Rissik- en Hoffmanstraat terug is.Verf nou net strepe op die pad ook.
Die stopteken op die hoek van Meyer- en Molenstraat was ook ’n ruk weg, maar Ore hoor dis ook weer terug! Mooi! Het ’n paar jong manne se gewetes hulle bietjie begin pla?
Stoptekens wat wegraak is mos altyd of by ’n skrootwerf of in ’n student se kamer.

Puk-hoenders

Ore hoor baie Pukke is omgekrap oor die hoendertjies wat van die kampus geboender is.
Dit was soos op ’n plaas totdat iemand peste en plae uitgedink het wat die hoenders kwansuis sou hê.
Was dit nou regtig nodig?

Related Articles

Back to top button