LetterOpinions

Vrae oor veiligheid by Huis Eikelaan

Ek rig hierdie brief aan Huis Eikelaan se bestuurder.

“Ontnugterde” skryf:
Ek rig hierdie brief aan Huis Eikelaan se bestuurder.
Watter plan van aksie gaan u maak om aan ons ouers die veiligheid te verleen soos die ooreenkoms is as mens ’n inwonerskontrak sluit? Sonder enige keuse word maandeliks fooie gehef en die afhanklike seniors moet net eenvoudig aanvaar en vertrou.
Daar kan beslis nie meer blindelings vertrou word nie. Die bastion se mure van die Tehuis vir Bejaardes in die dorp is besig om te krummel.
Daar is die week van 14 Julie persone wederregtelik by die toegangshek toegelaat. In die siekeboeg het ’n dame haar kosbare verloofring “verloor”, sowel as ’n ander persoon op die perseel wat sentimentele juweliersware deur hierdie blatante besoekers “verloor” het.
Hul kon inkom, vryelik sonder versteuring, net ingestap, verby die ingangsportaal van die siekeboeg, reguit met die gang af en baie vriendelik die tannie gegroet het. So het hul gegroet, geneem en vertrek. Sonder enige teenstand! ’n Onbekende persoon het ’n dame in haar kamer besoek, onder die voorwendsel van ’n versoek om vir haar te bid.
Boonop is die sisteem in die siekeboeg, om “diewe uit te snuffel” nie aangeskakel nie en kon die sondebokke wegkom. Danksy die rekenaar by die hek is ’n opname van die vertrekkende motor sonder gesigte opgeneem.
Wat se agterlosigheid word vandag nog geduld? So maak die mensdom mos vandag.
Kyk anderpad want dis nie ek wat skade ly nie. Ek hoop van harte dat die sogenaamde bestuursraad stappe gaan neem. Geen versekering en nakoming van pligte word meer gewaarborg nie. Alles moet met handskoene hanteer word.
Ek hoop u sien kans om die probleem kaalvuis aan te pak. (Brief verkort. Red)
Die bestuurder van Huis Eikelaan het as volg gereageer: “Die Raad van Trustees van Huis Eikelaan gaan as gevolg van die trant van u brief en verdraaiing van feite nie in die media reageer nie.
“U is welkom om die bestuurder per afspraak te kontak, ten einde u vrese en bewerings aan te spreek.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button