BlogsOpinionsOre

Hoe sê Ore – 24 Julie 2015

Hoe sê Ore - 24 Julie 2015

As jy nie aanval …

Waar Ore kom word daar rugby gepraat. Springbokrugby. En hoe ’n patetiese tweede helfte ons teen die Wallabies gehad het. Van Ore se vrinne het gesê hulle gaan Saterdag eerder braai as rugby kyk, want die All Blacks gaan ons verwoes.
Dit moet baie gerusstellend vir enige span wees om tans teen die Bokke te speel. Hulle hoef nie bekommerd te wees oor balbesit nie. Die Bokke sal sorg dat hulle genoeg daarvan kry.
’n Man wat sy rugby ken laat weet vir Ore dat Harry Viljoen in 1991 gesê het as jy vyftien keer die doellyn aanval, kan jy miskien drie keer “score”.
So, as jy nie aanval nie …., raai wat Heyneke Meyer?
Jy sit die pot mis!

Ore voorspel

Ore kan klaar voorspel wat hier aan die kom is met die hele gedoente oor die lokomotiewe en Prasa en Transnet.
Net so kan Ore voorspel wat aan die kom is met die kernkrag-aanlegte.
Iemand het weer bakhand onder die tafel gesit. Daar gaan ondersoeke kom wat nie in die hof gaan draai nie.
Dan gaan die bakhanders goue handdrukke kry om vir ’n ruk uit die openbaar te verdwyn om later weer stilletjies êrens ’n nuwe pos te kry.

Pas lorries op

Ore hoor ons spietkops het opdrag gekry om in hul sogenaamde “nagskof” (dis glo van ses tot tien) te kyk dat die lorries nie op verkeerde plekke stilhou as die lorriedrywers gou ’n blaaskans vat nie. Ore verstaan dat “blaaskans” baie kan beteken.
Dit kan of ’n rus wees, of gou agter ’n boom om die blaas leeg te kry, of daar is ook heelwat meisies van die nag in die omgewing …

Goue Oor

’n Goue Oor gaan aan die munisipaliteit se straatskoonmaker wat Maandagoggend sewe uur al op sy pos in Retiefstraat was.
Die vroue by die lisensiekantore waar mens jou kar se lisensie uitneem is altyd vriendelik en baie netjies versorg en aangetrek. Goue Oor vir julle!

Related Articles

Back to top button