Hierdie reddingsboei gaan ons duur kos

Izak Smalman skryf:

Izak Smalman skryf:
Daar word wyd bespiegel oor die redes vir die beoogde samesmelting van die Tlokwe-munisipaliteit met die sukkelende Ventersdorp-munisipaliteit. As inwoner van Potchefstroom is ek gelukkig met die plaaslike munisipaliteit, veral as mens in ag neem hoe dorpe en munisipaliteite in ons provinsie agteruitgaan (ek mag dus nie kla met ‘n vars brood onder die arm nie). Ek het begrip vir die belastingbetalers van Ventersdorp wat sekerlik ‘n klein persentase van die totale inwonergetal verteenwoordig. Die munisipale afbakeningsraad moes in die eerste plek sy opdrag van die provinsiale regering gekry het, met die oorspronklike opdrag wat van die nasionale regering afkomstig is. Sou die beoogde samesmelting slaag, kan die DA vesting in Potchefstroom mos getemper word.

As die samesmelting om ekonomiese redes moet plaasvind, is dit ‘n dom besluit. Een munisipaliteit kan nie ‘n ander een red nie. Op hierdie wyse gaan beide munisipaliteite onder. Die reddingsboei moet van bo af kom, daarom is dit die verantwoordelikheid van die regering, op watter vlak ookal, om in te gryp. Die redding kan ook nie plaasvind sonder om die oorsake aan te spreek nie. Dan praat ons van wanbestuur, korrupsie,verkwisting, regstellende aanstellings en ander faktore wat my heeldag sal besig hou. Is ons provinsiale regering se prioriteite reg? Ons sit met ‘n premier, mnr. Supra Mahumapelo, wat op ‘n dag besluit het om bietjie innoverend te dink.Toe dink hy die provinsie van Noordwes se naam moet nou verander word na een of ander held wat ek nie ken nie. Dit is nou ons premier se prioriteit. As die geld wat aan ‘n naamsverandering spandeer gaan word net opsy gesit word om Ventersdorp- munisipaliteit te red, dan het ons klaar gevorder.

Exit mobile version