Hoe sê ore – 17 Julie 2015

Hoe sê ore - 17 Julie 2015

Viernasie-proewe

Ore stem saam met Stephen Nell van Beeld dat hy verneuk sou voel as hy, soos amper 28 000 ander siele, betaal het om na die Springbokke se wedstryd teen die sogenaamde wêreldspan te gaan kyk.
Dit was maar ‘n so-so span en as die Bokke dink hulle het veel daaruit geleer, het Ore vir hulle nuus.
Heyneke Meyer is seker van plan om die viernasies-toernooi te gebruik as proefwedstryde vir die wêreldbeker. Ore kan reeds voorspel wat sy verskoning gaan wees as ons teen die Wallabies verloor. “Hy toets nog kombinasies!”
Hy sal nie kan sê dis ’n jong span nie, want ou Victor, Jean, Bismarck en Jannie het gans te veel baard.

Hou aan kla!

Ore word in laasweek se Herald aangevat omdat hy kwansuis nie “Praat Saam” in die koerant lees nie. Dit gaan oor die polisiewoonstelle.
Die SMS sê hulle kla al maande oor die toestand waarin die woonstelle is en sommer ook dat dit die kommissaris se kantore geword het. So moet baie polisielede oral in Potch plak. Net vir die rekord: Ore kla al jare oor dié woonstelle. Een keer daarna was dit darem geverf. Al raad wat Ore het: Hou aan kla!

Waar’s jonges

Ore kon sy ore nie glo dat Potch Dorp se rugbyklub teen plekke soos Leeudoringstad en Vryburg verloor nie. En nie met een of twee punte nie. Sommer ver!
Ore kritiseer nie die manne wat nou speel nie en ook nie die afrigters nie, maar daar moet darem seker in Potch meer jong manne wees wat kan kom speel. Daar is nie eers ’n tweede span nie! Hoe kan ’n plek soos Potch teen Leeudoringstad verloor?!

Wat is anders?

Ore kan net sowel nou maar nog rugby praat. Die jong Luiperds by die Cravenweek se naels is ook deur die Griekwas getrek. Net soos hul ouboete met die groot Luiperds gedoen het.
Wat is daar in die water in Kimberley wat nie ook in Potchefstroom is nie? Wat doen dié plek anders?

Exit mobile version