Bekyk res van verkeer ook nou

Die stuk van Albert Luthuli-laan wat breër gemaak is dien sy doel.

Die stuk van Albert Luthuli-laan wat breër gemaak is dien sy doel. Die verkeersvloei is baie beter en hoewel die projek langer geneem het as beplan, het die stadsraad die dringendheid vir die verbreding van dié stuk pad ingesien en iets daaraan gedoen.
Dieselfde geld ook vir werk wat in Paryslaan gedoen is. Dit behoort egter net die begin te wees van ’n paar sake rondom verkeer in Potchefstroom. Die aantal huishoudings op die Bult het die afgelope paar jaar met honderde toegeneem en daarmee saam die aantal voertuie wat die paaie-netwerk gebruik.
Die bou van nog wooneenhede gaan steeds voort en die vrees bestaan dat ander infrastruktuur, behalwe paaie, eenvoudig nie die druk sal kan hanteer nie. ’n Behoorlike verkeersstudie oor die stad word jare lank al bepleit, maar miskien is dit goed dat dit nie gedoen was nie, want teen dié tyd sou dit in elk geval nie meer bruikbaar wees nie.
Aanduidings in die mark is dat ontwikkeling van nog behuising op die Bult tog gaan verlangsaam weens ’n baie hoë aanbod.
Die tyd is dus nou ryp om so ’n verkeersstudie te doen. Verkeer in die sentrale deel van die Bult kom met tye byna tot ’n stilstand. Die meeste strate op die Bult is waarskynlik te nou om dit breër te maak, maar dan sal na alternatiewe soos eenrigtingstrate gekyk moet word.
Die verkeer in Thabo Mbeki-rylaan, die hooftoevoerpad vanuit die noorde van die stad, is waarskynlik een van die dringendste situasies wat aangespreek moet word. Behalwe dat dit aansluit by ’n hoofpad, is verdigting aan die noordekant met rasse skrede aan die gang.

Exit mobile version