LetterOpinions

Verbeterde wetstoepassing is nodig

Kobus van der Walt skryf:

Kobus van der Walt skryf:

In die Herald van 22 Mei was daar ’n berig wat gehandel het oor die moontlike verlaging van die spoedgrens binne Potchefstroom se munisipale gebied na 40km/h.

In die berig is mnr. Malcolm Grimbeek, Potchefstroom se verkeershoof, aangehaal dat ’n spoedgrens van 60km/h te vinnig is aangesien “’n motor bykans 100m neem om tot stilstand te kom” as mens skielik moet stop. Hierdie bewering is onakkuraat.

Die afstand wat ’n motor neem om te stop hang af van die aanvanklike spoed, die reaksietyd van die bestuurder asook die krag wat die remme kan uitoefen. ’n Gemiddelde bestuurder se reaksietyd is in die orde van 1 sekonde, wat beteken dat die motor wat 60km/h ry 17m sal aflê voordat die rem sal begin werk. Daarna sal ’n gemiddelde motor spoed verloor teen ’n negatiewe versnelling van nagenoeg 8m/s2, wat beteken dat ‘n motor vanaf die oomblik dat die bestuurder besef dat hy moet stop totdat die motor stilstaan, ’n totale afstand van minder as 40m sal aflê, afhangende van die massa en die meganiese toestand van die motor.

Die werklike oorsake van oormatige remafstande is onpadwaardige voertuie (swak remme en bande), oorlaaide voertuie, bestuurders waarvan die reaksietyd stadig is vanweë alkohol of ander faktore, asook ’n oortreding van die spoedgrens – as ’n voertuig se spoed verdubbel, verviervoudig die stopafstand.

As ons verkeershoof werklik ernstig is oor die veiligheid van motoriste en voetgangers in Potchefstroom, sal hy moet konsentreer op die regte dinge. Veral na-ure verander Potchefstroom se strate gereeld in resiesbane vir half-besope bestuurders. Die maklike antwoord is om die spoedgrens te verlaag. Die effektiewe antwoord sal egter verbeterde wetstoepassing verg wat konsentreer op die werklike oorsake van ongelukke.

Related Articles

Back to top button