Hoe sê ore – 3 Julie

Meelbom-wraak

Meelbom-wraak

Ore onthou hy het in 1995, toe dit ook Wêreldbeker-rugby was, gesê een van die moontlike redes waarom die All Blacks verloor het was omdat hulle verskrik was oor daai 747 wat so laag oor die stadion gevlieg het. Hulle het dalk gedink dis ’n meelbom-weerwraak! Wel, Ore weet nie wat Heyneke Meyer en sy troepe vanjaar gaan doen om darem die halfeindstryd te haal nie. Ore dink nie hulle ken iemand doer ver om weer ’n vliegtuig te kry nie. En as hulle op hul spel alleen staatmaak, hoop Ore van harte dat daar van êrens hulp gaan kom. Want speel ons troepe soos in die Super 16 gaan ons vroeg stert tussen die bene huis toe kom.

Lelike straat

Ore het nou die dag na ‘n lang tyd weer in Chris Hani-straat gery. Ore dink nie Hani sou baie gelukkig gewees het om sy naam tans aan die straat gekoppel te hê nie. Ore dink hy sou gevra het vir ’n ander straat. Behalwe vir die baie gate in die straat, ry mens verby die onooglike onversorgde polisiewoonstelle. Vroeër jare het elkeen van dié woonstelle sy eie mooi tuintjie gehad. Het die grootkoppe van die polisie nou tuine verbied?

Herlewe park?

Ore sien nou die dag op pad Klerksdorp toe dat die nog-te-van-die-grond-af-moet-kom Hoëveldpark se heinings darem weer bietjie herstel is. Ore hoop dit is ’n teken van goeie nuus wat op pad is. Ore hoor daar is nou ’n man agter die stuur wat nie nonsens vat nie. Dis ook hoog tyd. Daar is mense wat ’n droom oor so ’n park gehad het wat al dood is.

Goue Oor

Ore het twee nominasies gekry. Een is vir oud-raadslid Thys Lourens wat weer ‘n sweep geswaai het om te sorg dat die Ventersdorppad ’n nuwe teerlagie kry. Die ander is vir die Luiperd-bestuur. Dis tyd dat Luiperd-rugby weer op die kaart kom, hoor Ore hulle sê!

Exit mobile version