LetterOpinions

Verkeersman was uiters onbeskof

Loretta Kotze (Labuschagne) skryf:

Loretta Kotze (Labuschagne) skryf:

Ek het op Maandag 2 Junie ‘n uiters onsmaaklike situasie beleef by Ventersdorp Munisipaliteit. Ek was daar om my bestuurslisensie te hernu. Daar gekom was ek heel verbaas om te sien dit is nie so besig nie. Ek het my vorms reggekry en in die ry gaan staan, heel in my skik. Ek was tweede in die ry. Wat ‘n ontnugtering!

Daar kom toe ‘n witman te voorskyn in gewone klere. Hy het nie gepraat nie, hy het geskree. Hy het seker gemaak almal hoor hom. “Afsprake, afsprake wie is hier vir afsprake, ek het klaar oë getoets, ek is nie hier om alles te doen nie, hier is ander mense wat dit kan doen.” Die probleem was dat daar nie ander mense was nie, almal was in ‘n vergadering. Ek waag dit toe om te vra as hy dan nou nie meer gaan help nie, gaan iemand ons help of moet ons gaan, waarop hy terugskree: “nee julle kan maar loop, ek gee nie om nie.”

Daar staan ‘n swartman voor my. Hy skree vir hom: “ek gaan nog net een help”, gryp sy papiere, skree op hom “ek is nie ‘n klerk nie, gaan vul jou goed reg in” en smyt dit vir hom terug. By my staan twee oumensies wat net moes terugkom met ‘n oogtoets verslag. Hy verskree hulle so dat ek heel ongemaklik en verleë namens hulle is, en deur dit alles bly die ou oom vir my sê: “moenie loop nie, bly net geduldig.”

Toe kom my beurt. Hy skree weer “ek gaan net nog een help.” Ek gaan en hy vat verergd my papiere en ja, ek het ‘n fout gemaak. Ek het RSA geskryf waar ek nie moes nie. Hy skree vir my: “waar is jou buitelandse ID,?” seker drie keer. Ek antwoord baie beskaaf ek het nie een nie ek het daar geskryf RSA en ek is ‘n SA burger. Hy gryp ‘n swart koukiepen en terwyl hy op my skree dat ek op die spesifieke plek verkeerd geskryf het, trek hy ‘n swart streep daardeur.

Dis toe wat ek vir hom sê ek is jammer, maar hy gaan nie so met my praat nie. Hy vat my vorms vou dit, druk dit in my hand en skree: ”Loop.” Nodeloos om te sê, ek was so hewig ontsteld, ek het in trane uitgebars. Ek het al met baie ongeskikte mense te doen gehad, maar hy vat die koek. Die uiteinde is dat hy amper ‘n pakslae gekry het by my man, want hy het net gevoel hy gaan nie so met my praat nie. Ons het toe gaan uitvind wie sy direkte bestuurder is.

Die dame staan klaarblyklik bekend as BJ. Ons het met haar kantoor gepraat, maar sy was nie beskikbaar nie. Ons het haar op haar selfoon probeer bereik, maar sy was nie beskikbaar nie. Ek is ‘n wetsgehoorsame burger van die land. Ek is nie veronderstel om bang te wees vir ‘n verkeersman nie, maar ek moet hom kan respekteer. Hierdie man behoort onder geen omstandighede met die publiek te werk nie.

Hy gee nie om of jy swart, wit, bruin, oud of jonk is nie, hy praat met jou asof jy vuilgoed is. Hy dink hy doen jou ‘n guns om daar te wees. Hy is uiters onbeskof en onprofessioneel. Ek wil vir hom sê gaan leer by mense soos Stoney en sy mede-kollega in Potch hoe om met die publiek te werk. Ek sit eerder drie en ‘n halwe uur en wag en word dan uiters bekwaam deur opgevoede amptenare gehelp.

Jy kan gerus gaan leer hoe word iemand hanteer wat ‘n fout gemaak het, of erger nog, nie al die dokumentasie daar gehad het nie. Niemand is weggejaag nie. En hulle het ook nie genoeg amptenare om die werk te doen nie, en hulle is baie besiger as wat jy is, en ten spyte daarvan is ons met menswaardigheid behandel. Nog iets, Jan Publiek met wie jy so ongeskik is, betaal jou salaris.

*Ventersdorp Munisipaliteit is om kommentaar genader, maar teen spertyd is geen kommentaar of antwoord van hul ontvang nie.

Related Articles

Back to top button