Uit my Dagboek: Nuwe Pa: Klein dinge maak my liries

Hy het probeer regop sit, hy het omgedraai, het “geburp”, het geglimlag, ag hy is so slim.

Hy het probeer regop sit, hy het omgedraai, het “geburp”, het geglimlag, ag hy is so slim.
Ja, dit is hoe opgewonde ek raak wanneer Aiden die meeste gewone dinge doen. Ek weet hoe belaglik ek is wanneer ek opgewonde raak nadat hy probeer regop sit, maar ek kan myself nie help nie. Selfs met die windjies. Ek help hom om die windjie uit te kry, maar tog is ek oor die maan wanneer hy ‘n windjie breek.
Hy het die afgelope week begin om self met sy speelgoed te speel. Ek het gedink dit is dié bepalende oomblik in sy lewe. Die trane het baie vlak gelê en my bors het verdubbel van trots. Dit is hoe dit gaan met alles, selfs wanneer hy vir my glimlag wil ek almal wat ek ken bel en vertel oor hoe Aiden glimlag.
Ek glo nie ek is alleen in die optrede nie, dit is immers ons eerste kind. Jou eerste kind se eerste alles, is vir jou ’n mylpaal. Selfs sy eerste vuil doek is ’n mylpaal wat jy altyd sal onthou. Die ironie is dat oor ’n paar jaar gaan hy ’n windjie breek dan gaan ons heel moontlik vir hom vertel hoe ongeskik hy is om dit voor mense te doen.
Maar vir nou vier ons sy winde asof dit ’n groot prestasie is. Met die tweede kind is dit dalk minder van ’n mylpaal, want jy het reeds deur alles gegaan met die eerste een. Ek begin nou eers besef waarvan my jonger boetie en sussie praat wanneer hulle sê dat my ouers ’n groter bohaai gemaak het oor dinge wat ek gedoen het. Ek was die eerste kind wat sport begin beoefen het, wat skool toe gegaan het, wat ’n goeie rapport gekry het. Dit is net natuurlik dat ‘n mens meer bohaai maak oor die eerste keer as die tweede keer. Toe ek in graad 7 vir ons skool se eerste rugbyspan uitdraf, was dit ’n baie groot prestasie, alhoewel ek eintlik net ’n reserwe was. Maar ek dink toe my broer ’n paar jaar later eintlik in die beginspan was, is daar nie so ‘n groot bohaai gemaak nie, want dit is iets wat al gebeur het. Reg of verkeerd dit is menslike natuur om meer belangstelling in iets nuuts te toon. Jammer boetie, ek is seker ma-hulle is steeds baie lief vir jou. Ek vra ook solank vir Aiden se toekomstige boetie of sussie omverskoning as ek dalk dieselfde ding doen. Vir nou gaan ek maar aanhou gedigte skryf oor Aiden se “prestasies.”

Exit mobile version