Hoe sê Ore – 29 Mei 2015

Hoe sê Ore - 29 Mei 2015

Alles bly net praat

Vir beurtkrag is Ore nou gatvol verby! Kan belastingbetalersverenigings, politieke partye en AfriForum en wie ookal, nie die regering hof toe vat en ‘n interdik kry om beurtkrag meer regverdig toe te pas nie? Almal praat net maar doen niks. Ore hoor daar is allerhande slim plannetjies bedink om net by mense wat nie betaal nie, beurtkrag toe te pas, maar alles bly net by praat, praat, praat.

Eskom kan begin by munisipaliteite wat nie hul rekening betaal nie. Sny hulle af, maar hoekom ‘n plek soos Potch wat Eskom niks skuld nie? Ore, en die meeste ander mense in Potch, betaal getrou elke maand hulle elektrisiteit. Vir wat moet ons nou ook so gestraf word? Ore weet hierdie goed is lankal al deur baie ander mense ook gesê, maar daar gebeur niks. Alles bly net by praat.

En wat gaan volgende gebeur? Omdat die krag so baie af is gaan die stadsraad nie genoeg inkomste kry uit elektrisiteitsverkope nie en dan gaan hulle eiendomsbelasting hoër maak om op te maak daarvoor. Want onthou, daar werk lekker baie mense met reusagtige salarisse by die munisipaliteit wat betaal moet word. En heeltemal te veel raadslede ook. Moet die stadsraad nie ook maar, soos die privaatsektor, begin mense minder maak en bespaar op salarisse nie? Of voel hulle nie die swak ekonomie nie?

Beurtwater

Ore hoor een van die politieke partye het nou die dag gesê ons kan nie nog iets soos beurtwater ook hê nie!

Nou ja, Ore wil nie spoke opjaag nie, maar dit is dalk nie so vergesog nie. ‘n Pêl van Ore wat in Louis Trichardt bly sê die meeste van hulle daar het maar boorgate en hulle eie watertenks, want hulle het baie keer vir dae nie water nie of as daar is, is jy te bang om daarin te was, wat nog te sê te drink.

So, dié van julle wat boorgate het moet dit maar solank begin toerus. Gaan hoor solank by die koöperasie wat kos ‘n goeie 5 000 liter tenk en beplan solank waar jy dit gaan laat staan!

Exit mobile version