Kom ons hoop dinge begin ‘n bietjie verander

Die afgelope tyd voel Wysneus met tye so half of alles net besig is om agteruit te gaan, maar daar is tog baie dinge wat inwoners bly kan maak.

Die afgelope tyd voel Wysneus met tye so half of alles net besig is om agteruit te gaan, maar daar is tog baie dinge wat inwoners bly kan maak.

Wysneus is al só moeg om die hele tyd aan besoekers te probeer verduidelik hoekom hulle die stuk pad tussen Carletonville en die N14-hoofpad moet vermy. ‘n Stuk van dié pad is nou mos al vir meer as ‘n jaar toe na ‘n sinkgat net langs die pad ingeval het. Die skouer op die baan wat nie gesluit is nie is ook lelik uitgery. Bestuurders wat vir aankomende verkeer moet padgee deur van die teer tot op die kant van die pad te ry, stel hulself in gevaar om hul voertuie se bande te beskadig.

Maandagoggend ry ‘n kollega van Wysneus verby die probleem-pad toe sy en die persoon by haar ‘n groot geel stootskraper by die stuk uitgeryde pad langs die teer sien. Wat die stootskraper daar gemaak het, is nie seker nie maar dit kan net op verbetering dui. ‘n Mens hoop hulle gaan of die skouer van die pad gelyk maak óf iets aan die sinkgat doen. Wat dit ookal is, die toestand kan net verbeter.

Wysneus het ook verlede week of so gekla oor die gemors wat so vinnig as wat dit opgetel word, weer neergegooi word. Hy hoor die afgelope week daar is ‘n klomp bekommerde inwoners wat al weer ‘n aksie aan die organiseer om dié rommel op te tel. Indien ons mense, of dan ten minste van hulle, kan aanhou om so mooi saam te staan, kan ons net ‘n verskil maak. Op die ou end is dit tog die omgewing waarin ons bly wat sleg lyk. Dalk skrik die munisipaliteit ook wakker indien hulle sien hoe sterk almal oor die rommel voel.

Nou moet ons net ‘n paar van die morsjorse ook aankeer en ‘n voorbeeld van hulle maak om dalk die situasie heeltemal te verbeter.

Iets wat egter nie verbeter nie, is die manier waarop sommige bestuurders in ons omgewing ry. Arme ou Wysneus was Sondagmiddag amper bokveld toe. Hy het uit die rigting van Potch uit deur Welverdiend beweeg en het gelukkig nie te vinnig deur die dorpie gery nie. Net toe hy amper by die plek is waar die pad wat oor die treinspoor kom by die hoofpad aansluit, besluit ‘n bestuurder by dié aansluiting om sommer doodluiters voor Wysneus in te draai.

Wel, as ou Wysneus nie wakker was en vinnig gerem en uitgeswaai het nie, was daar seker van hom en sy ou motortjie niks oor nie. Al wat hy kon doen, was maar om sy motortjie se toeter ‘n paar keer hard te druk en in die verbygaan die bestuurder allerlei nare goed toe te wens.

Wat dinge egter erger maak, is dat daar ‘n polisiewa aan die oorkant van die pad reg waar die amperse ongeluk plaasgevind het, geparkeer was.

Dit het so in die verbygaan vir Wysneus gelyk of die bestuurder van die wa in ‘n diep gesprek met ‘n voetganger langs sy deur betrokke was. Wel, die gesprek moes diep wees want die polisie het nie ‘n vinger verroer om iets aan die roekelose bestuurder wat Wysneus amper afgeskryf het, te doen nie. Nee wat, Wysneus dink dis omdat die owerhede ernstige oortreders net aangaap dat alles gaan soos dit gaan. Almal dink mos hulle kan doen net wat hulle wil, want hulle sal nooit iets oorkom nie.

Exit mobile version