LetterOpinions

Reëls en wetstoepassing nêrens te sien

Danie skryf:

Danie skryf:

Die Dome motorfietssaamtrek wat onlangs in Parys by die Mimosa Tuine gehou is, het my verras.

Sondag nadat almal vertrek het, kon jy die oord deur ’n ring trek so skoon was dit, in teenstelling met wat gebeur tussen Kersfees en Nuwejaar as ’n ander groep daar saamtrek.
Dan lyk dit soos die vullisterrein. Ander instansies moet dan kom opruim na dae of selfs langer. Die munisipaliteit doen nie eers moeite nie, dit kan maar soos ’n varkhok lyk – iemand sal opruim.

Die Mimosa Tuine park, chalets en restaurant was eens ’n gewilde plek – ’n bron van goeie inkomste vir die sakegemeenskap, sowel as vir die ou bedeling se stadsraad.

Alles wat goed gewerk het, mag nie meer werk nie. Kyk hoe lyk die middedorp! Die strate is bemors met rommel. Voor elke winkel word die rommel, waaronder kartonne waaruit voorraad kom, net daar geplak. Waar was die tyd toe die raad die skuldiges sou aanspreek om nie rommel reg voor die besigheid te stort nie? In die verlede sou jy nie op jou sypaadjie voor jou huis byvoorbeeld takke gegooi het om later weg te ry nie. Jy sou onmiddellik aangespreek word.

Daar is mos wette teen rommelstrooi. Gaan kyk gerus hoe lyk die Kaapprovinsie se dorpe. Hoe skoon is dit omdat hulle wette toepas. Gaan kyk hoe lyk dit in Namibië – silwerskoon, alles in plek – ’n trotse nasie. Net soos wat daar nie boetes uitgedeel word vir rommelstrooi nie, so gaan dit met verkeersreëls hier. Elkeen maak soos hy wil. Stopstrate is gemaak om te ignoreer, parkeer net soos ek wil. Groot vragmotors parkeer enige plek, oornag enige plek. Waar is wetstoepassers? Die munisipaliteit sukkel om Eskom te betaal. My voorstel is begin morsjorse en verkeersoortreders beboet, dit is ’n bron van inkomste en daarmee kan die Eskom-rekening op datum gebring word.

Parke bestaan nie, en dié wat deur inwoners in stand gehou word, want dit werk mos, moet verniel word. Straatnaamborde bestaan nie. Stoptekens waar nodig bestaan nie, of is toegegroei. Wat gaan aan? Straatligte brand nie, maar ons moet belasting betaal!

Related Articles

Back to top button