Hoe sê Ore – 12 Mei 2015

Hoe sê Ore - 12 Mei 2015

Reël weer Interver

Terwyl Kovsies nou so goed doen met al die sport, behalwe atletiek, moet die Puk hulle weer uitdaag vir ’n intervarsity. Ore hoor Kovsies se rektor het ’n paar jaar terug die intervarsity teen die Puk tot niet gemaak omdat die Pukke hulle die afgelope tyd so op die rugbyveld opgeduiwel het. Vanjaar het Kovsies die bordjies verhang toe hulle die Puk bloedneus gegee het. Nie net met rugby nie, hulle speel ook in die eindstryd van die Varsity-hokkie en het die Varsity Sewes rugby ook gewen. Dalk het hulle nou genoeg selfvertroue om die Puk weer met ’n intervarsity aan te vat. Sal darem lekker wees om hulle terug te kry!

Kondome

Ore hoor die regering wil kondome aan kinders so jonk as 10 jaar uitdeel. Ore dink nie dis ’n goeie idee nie. As mens blikkies bier en sigarette vir kinders loop en uitdeel sal hulle nie wonder wat om daarmee te maak nie. Behalwe as pappie en mammie hulle van die gevare van rook en drink vertel het. Mens moet dieselfde van kondome vir hulle leer. Vandag se kindertjies weet al van baie kleins af daai ding wat soos ’n ballon lyk is nie ’n ballon nie.

Brug lyk sleg

Ore sien die treinbrug in Nelson Mandelaweg lyk maar naar. Die relings is op ’n paar plekke raakgery en staan in alle rigtings. Dis nou nie juis ’n mooi advertensie vir die stad van deskundigheid nie. Ore weet die relings word seker elke naweek disnis gery, maar dis tog nie ’n opsie om dit maar net so te los nie. Loop maak mooi daar. Potch is nie ‘n sommerso plek nie.

Vrolike kuier

Ore sien Erfenis Potchefstroom gaan pub crawling by vyf van Potch se bekendste kroeë doen. Hulle sit sewe ure daarvoor uit. Ry-tyd uitgesluit is dit so bietjie meer as ’n uur per plek. Teen so drie biere per uur kan mens vrolik aan’t kuier raak. Gelukkig crawl hulle met ’n bus!

Exit mobile version