Tegnologie nou ingespan om probleme te uiter

Wysneus het, soos talle ander Suid-Afrikaners, Dinsdag maar afgehaal gevoel toe die Proteas die knie teen die All Blacks moes buig. Ander mense op wie mens ongelukkig ook nie altyd kan staatmaak nie, is ons liewe munisipaliteit. ‘n Kollega van Wysneus wat in Carletonville se Uitbreiding 8 woon, vertel dat sy sommer by voorbaat die …

Wysneus het, soos talle ander Suid-Afrikaners, Dinsdag maar afgehaal gevoel toe die Proteas die knie teen die All Blacks moes buig.

Ander mense op wie mens ongelukkig ook nie altyd kan staatmaak nie, is ons liewe munisipaliteit. ‘n Kollega van Wysneus wat in Carletonville se Uitbreiding 8 woon, vertel dat sy sommer by voorbaat die kerse uithaal wanneer die weerlig begin swaar raak.

Blykbaar gaan die krag in dié area, sowel as in Uitbreiding 9, gereëld af wanneer daar swaar weer is. Asof Eskom se beurtkrag ook nie erg genoeg is nie, moet inwoners in dié woongebiede ook dikwels langer tye sonder krag sit omdat hul krag soms af bly, selfs na die beurtkrag geëindig het.

Wat ookal die rede hiervoor is, dit maak inwoners blykbaar erg boos.

Die probleme in dié areas het inwoners só begin frustreer dat ‘n op-en-wakker raadslid nou al selfs ‘n Whats-App-groep moes stig sodat almal die kans kan kry om hul griewe te lug.

Probleme soos vullissakke wat nie uit sekere strate verwyder word nie en vullisverwyderingsvoertuie wat laat is, is van die klagtes wat só met die hulp van tegnologie aangestuur word.

Wysneus hoor van die mense raak soms maar lekker opgewonde wanneer die munisipaliteit keer op keer nie aan hulle probleme aandag gee nie.

Wysneus dink dat die betrokke raadslid verseker ‘n klop op die skouer verdien oor die wyse waarop hy inisiatief geneem het om tegnologie vir die verbetering van sy area aan te wend. Daar is ‘n hele paar ander raadslede wat ‘n mens mos net voor die verkiesing sien, maar wat na die tyd skoonveld is. Is daar nie dalk ‘n manier waarop die kiesers almal kan dwing om deur middel van iets soos Whats-App die hele tyd vir kiesers beskikbaar te wees nie?

Intussen sien Wysneus die arme Fochvillers het ook maar baie om oor te kla. As dit nie die gate in hul paaie is nie, is dit hul strate wat ook al op plekke deur gras toegegroei word.

Wysneus se kollega het Maandag deur Kruisstraat gery en gesien dat gras op verskeie plekke van sypaadjies af tot op die padoppervlak groei. Indien dinge so aangaan, gaan Fochville se strate een van die dae so smal raak dat net fietse, of die klein karretjies waarmee almal behalwe die rykstes in die toekoms sal moet ry om die hoë petrolprys te kan hanteer, een van die dae daarop kan pas.

Nee man, Merafong City Plaaslike Munisipaliteit, doen asseblief iets dat ons inwoners weer kan trots wees op ons dorpe.

Exit mobile version