Ons bly definitief nie in ‘n area vir sissies nie

Soos die tye vorder en verander, sien Wysneus dat ons verseker nie in ‘n area vir sissies bly nie. Die afgelope week het ‘n kollega met groot oë by die koerant se kantoor aangekom en vertel dat sy gesien het hoe ‘n arme man sy motor lelik in die parkeerterrein voor besighede in Flintstraat beskadig …

Soos die tye vorder en verander, sien Wysneus dat ons verseker nie in ‘n area vir sissies bly nie.

Die afgelope week het ‘n kollega met groot oë by die koerant se kantoor aangekom en vertel dat sy gesien het hoe ‘n arme man sy motor lelik in die parkeerterrein voor besighede in Flintstraat beskadig het.

Iemand het die metaaldeksel van ‘n water-afvoergat net langs die parkeerplekke verwyder, wat veroorsaak het dat die gat nou oop is. Die arme motoris het nie die gat, wat in ‘n laagte in die pad geleë is, gesien nie en het per ongeluk daarin gery. Sy motortjie se wiel het byna in die gat verdwyn en hy moes spook om sy voertuig uit die gat te kry.

‘n Ander kollega het later weer na die toneel gery om ‘n foto van die gat te neem en het by ‘n karwag gehoor dat die gat al vir bykans twee weke so oop is. Die wag het baie dankie gesê en vertel dat hy sy hande vol het om motoriste, wat nie die gat mooi kan sien voordat hulle na die parkeerplek langs die gat indraai nie, te waarsku. Volgens hom was daar al ‘n paar motors wat op dieselfde plek beskadig is.

Indien dit nie oop gate in die teer is nie, is die teer ook vol slote… Wysneus sien al vir ‘n geruime tyd dat die teer-oppervlak op die pad in Boundary-rylaan in Carletonville byna soos ‘n padkaart lyk soos wat dit gekraak is. Blykbaar moet fietsryers mooi sit indien hulle in dié straat ry, omdat van die krake só groot is dat dit ‘n fiets amper van koers af kan gooi. Wonder hoe lank dit gaan wees voor die goed so groot is dat dit ‘n klein motortjie of motorfiets van koers af sal stoot?

In die sowat vier jaar wat Wysneus gereëld dié straat bekyk, kon hy nog nie een keer sien dat die munisipaliteit enigsins probeer het om iets aan dié straat se oppervlak, wat al vir ‘n geruime tyd agteruit gaan, te doen nie. Dele van Coronationstraat in Carletonville is net so aan die bars. Indien dinge só voortgaan, sal ‘n mens een van die dae ‘n viertrekvoertuig nodig hê indien mens in Carletonville se strate wil ry.

Wysneus moet egter sê dat ons dorpe heel netjieser as van ons bure lyk. Hy was die afgelope week in Vanderbijlpark en dit was opmerklik hoe lank dié dorp se gras teen ons s’n is. Veral die hoofroetes deur ons dorpe lyk aansienlik netjieser as in Vanderbijlpark. Mens hoop net nie die mense hier by ons gebruik sulke plekke as verskoning om ook weer al luier met die grassny te word nie…

Wysneus het ook verlede week sy kop gekrap toe hy lees dat inwoners van Fochville kla oor dié dorp se vullisterrein wat nie altyd toeganklik is nie.

Ondanks dié probleem is daar steeds baie minder mense in Fochville wat rommel strooi. Wys dit nie net dat die Fochvillers baie skoner is en of meer vir hul omgewing omgee as die Carletonvillers en Welverdienders nie?

Exit mobile version