BlogsOpinionsOre

Is dit nou ‘n saak van wolf in skaapsklere?

Wysneus kan soms nie ophou om sy kop te skud vir van die goed wat in ons area gebeur nie. Nou die dag het een van sy kollegas vroegoggend na ‘n huis naby die voormalige Goldfields rekreasieklub in Carletonville gery. ‘n Klomp vroue met oranje hoede en/of oorpakbroeke was langs die ou klub se muur …

Wysneus kan soms nie ophou om sy kop te skud vir van die goed wat in ons area gebeur nie.

Nou die dag het een van sy kollegas vroegoggend na ‘n huis naby die voormalige Goldfields rekreasieklub in Carletonville gery. ‘n Klomp vroue met oranje hoede en/of oorpakbroeke was langs die ou klub se muur besig om gemors bymekaar te hark.

Naby hulle was daar oranje vlamme op ‘n hoop gemors wat iemand reg langs die muur aan die brand gesteek het. Sover as wat Wysneus se kollega kon sien, was die groep vroue, wat duidelik van die regeringswerkers is wat mens oral aan die werk sien, die enigste mense in die omgewing. Nou wonder Wysneus. Is dit nie juis ons regering wat wette maak dat mense nie vure in die dorpsgebied kan begin sonder om toestemming daarvoor te vra nie? Hoe is dit dan dat die regering se eie mense dié is wat só ‘n wet oortree nie? Is die oranje-oorpakwerkers dan nie ook juis aangestel om die toestand van ons omgewing te verbeter deur vullis op te tel nie?

Wysneus is bykans seker dat dit nie die enigste keer is dat van dié werkers al sulke dinge aangevang het nie. Die vraag is nou net wie teen hulle gaan optree en wie seker gaan maak dat sulke goed nie weer gebeur nie. Sondagmiddag het Wysneus egter ander skoonmakers gesien wat gerus maar met hul werk kan aangaan. Hy het Carletonville uit die rigting van die P111-pad verby Doornfontein binnegekom en ‘n ouerige man en vrou gesien wat deur die gemors aan die kante van die pad soek wat later by Onyx-rylaan aansluit. Die twee het op die oog af na herwinbare rommel soos bottels en plastiek gesoek wat hulle dan op ‘n waentjie gelaai het.

Hoeveel jongmense is daar nie wat eerder sal sit en kla dat hulle nie werk het nie, as om sulke onaangename werk vir ‘n klein bietjie geld te doen? Is dit nie dalk beter om ‘n ietsie te verdien en ook te kan besef dat jy iets nuttigs in die samelewing gedoen het, as om die hele dag voor die televisie te sit en kla nie? Wysneus dink juis dat indien iemand geld kon maak uit gemors wat na ongelukke agterbly, hulle al baie ryk sou kon word. Nie eens 500m van waar die twee mense herwinbare rommel opgetel het nie, lê daar nou al vir seker drie weke ‘n lamppaal wat iemand weer uit die aarde uit gery het.
Die afgelope paar weke was daar ook verskeie ander pale, bome en selfs skoolbus-oplaaiplekke wat onder mense wat soos maniakke in ons dorpe se strate jaag, deurgeloop het.

Wysneus neem aan dat die mense soos maniakke gejaag het, want hoe anders kry ‘n mens dit reg om ‘n lamppaal uit die grond uit te ry, behalwe as jy teen ‘n spoed wat ver bo die spoedgrens is, daarteen vasgejaag het?

Indien ons bestuurders nie wil leer nie, sal hulle maar moet aanhou voel.

Related Articles

Back to top button