Ma gaan land by wêreld kampioenskappe verteenwoordig

Su-Marie is baie opgewonde vir die kompetisie.

Sue-Marie van Vuuren, ‘n liggaamsbouer van Potchefstroom, is gekies om Suid-Afrika in Lithuania, Europa van 25 tot 28 Oktober in die Fitmodel World championships te verteenwoordig.

Sy het op 6 Julie deelgeneem aan die IFBB provinsiale kompetisie vir liggaamsbou in die afdelings- Fitmodel en Fitness bikini. Sy het in albei afdelings 1ste geplaas en was toe deel van die Noordwes span wat na die IFBB South African national championships (SA’s) in Natal aan die begin van Augustus was.

Sue-Marie is in Johannesburg gebore en het na matriek in Potchefstroom kom studeer.

“Ek het my my B.Sc graad in Mikrobiologie en Fisiologie by die NWU ontvang. Ek en my man het twee winkels in Potchefstroom en een in Klerksdorp,” vertel sy.

Sy vertel sy is eintlik baie skaam en liggaamsbou is hoe sy uit haar gemaksone kom.

“Ek is eintlik ‘n ongelooflike skaam mens. Ek sal myself nooit in die posisie stel om voor mense te praat of op te tree nie. Ek doen juis die sport om te leer hoe om gemaklik te wees in sulke situasies en om my kinders te wys dat mens nogsteeds jou bes moet en kan gee al is jy hoe ongemaklik. Dat jy in jouself moet glo en weet dat die Here ons geleenthede en talente gee wat ons moet aanpak en benut, want dit is uit genade aan ons gegee.”

Daar is twee rondtes in die afdelings waaraan sy gaan deelneem. Een is in ‘n monokini en die ander in ‘n rok.

“My grootste droom is om die beste rolmodel vir my kinders te kan wees, asook vir ander vroue – veral mammas. As mammas skuif ons ons eie welstand altyd eenkant toe, want ons kinders en eggenote is ons prioriteit. Maar ek wil getuig daarvan dat ons welstand die welstand en gemoed van ons huise bepaal. Die uitkom om te oefen elke dag, doen meer as wat mens dink, nie net fisies nie, maar emosioneel ook. Ons mammas verdien tenminste ‘n uur per dag vir onsself, waar ons aan onsself kan werk. Dit kan oefen wees, stap, verf, selfs ‘n wyntjie drink saam met ‘n vriendin, maar ons MOET tyd maak vir ons self. Nie as ‘n mamma nie, nie as ‘n eggenoot nie, maar as die vrou wie ons is.”

Sue-Marie benodig om en by nog R60 000 vir vlugte, verblyf en registrasies. Indien jy ‘n bydra wil maak, kan jy vir Anzel van @fitness kontak of Whatsapp op 066 232 0455.

Su-Marie in haar bikini tydens die kompetisie.
Su-Marie in haar rok tydens die kompetisie.

 

Exit mobile version