Terseus Liebenberg – “Dit is alles net genade”

Terseus is baie trots op Jo-Ané,

Terseus Liebenberg (69), ‘n legende in die spiesgooi gemeenskap, het hierdie jaar nog ‘n prestasie by sy lys van prestasies as ‘n afrigter gelas toe Jo-Ané Van Dyk op die 10de Augustus ‘n silwer medalje by die Olimpiese Spele verower het.

Terseus is in Johannesburg gebore en het daar hoërskool klaargemaak. Daarna was hy vir twee jaar in die weermag om sy diensplig te doen. Na sy diensplig het hy by die Universiteit van Pretoria vir vyf jaar studeer voordat hy by sy alma mater, Hoërskool Linden, begin skoolgee het.

Hy het ook vir agt jaar as mede departementshoof by die onderwys kollege in Goudstad gewerk voordat hy in 1993 by die NWU begin het. Hier het hy vir om en by drie dekades atletiek afgerig voordat hy as hoof van atletiek in 2022 afgetreë het.

“Daar was in al my jare baie mylpale en oomblikke wat vir my baie vreugde gebring het, maar daar is niks so lekker soos om ‘n atleet te help om hulle volle potensiaal te bereik en dan daai sukses saam met hulle te ervaar nie.”

Terseus vertel hy was vir 30 jaar aan sy eerste vrou, Estelle, getroud en die paartjie het drie kinders saam. Estelle is egter in 2013 aan kanker oorlede.

“Ek is nou al vir vyf jaar met ‘n wonderlike vrou, Alvera, getroud. Sy en my kinders is my alles en hulle ondersteun my ook in alles wat ek doen.”

Terseus dink terug en vertel van al die atlete se prestasies waarvoor hy teenwoordig was. Van Hennes De Wet tot by Jo-Ané Van Dyk, wat onlangs ‘n silwer-medalje by die Olimpiese Spele in Parys verower het.

“Ek het daai dag gesien JoAné is in totale beheer van haar emosies. Ek het sommer geweet, vandag staan sy op daai podium. Sy was proses gedrewe en het briljant presteer. Haar laaste tree uit die 2024 Olimpiese Spele uit, is haar eerste tree op pad na 2028 se Olimpiese Spele.”

Hy sê hy inspireer sy atlete sodat hulle hulself kan motiveer.

“Enige prestasie verg geduld, deursettingsvermoë, dissipline, volharding en ‘n positiewe gesindheid. As jou gedagtes positief is, sal jou aksies en gedrag ook positief wees.” Terseus sê dit is nou die tyd om nuwe doelwitte te stel en op die ou foute te verbeter. “Ek is regtig so dankbaar vir alles. Al die mooi dinge is eerlikwaar maar net genade.”

Exit mobile version