CommunityCrimeLocal newsNewsNewsTravel

Vrou amper dood weens protes op N12

"Daar is 'n gat in die enjin geslaan. Al die olie het uitgeloop. Die kar se alarm het sonder ophou begin skree. My vrou is steeds in skok na die hele situasie."

‘n Vrou is amper dood en haar motor is erg beskadig toe sy gister teen klippe wat tydens ‘n protes op die N12 gepak is, vasgery het.

Potchefstroom Herald het vroeër berig ‘n protesaksie het Woensdag omstreeks 06:00 op die N12 na Klerksdorp by die Ikageng afdraai begin. Die pad is tydens die protes versper en klippe is in die pad geplaas.

Openbare orde polisie is na die toneel ontbied waarna die situasie omstreeks 07:00 onder beheer gebring. Verkeer het vanaf 08:00 na normal toe teruggekeer.

Hansie De Jager sê dit is egter nie die geval nie, aangesien daar steeds klippe na 17:00 nog in die pad was.

Potchefstroom Herald het ook vroeër berig dat drie verdagtes in verband met openbare geweld in hegtenis geneem is.

Kolonel Adele Myburg, polisiewoordvoerder, het bevestig teen Woensdagaand is nog vyf verdagtes in verband met openbare geweld in hegtenis geneem.

Hansie sê sy vrou, Michelle De Jager, werk as ‘n teatersister in Klerksdorp en sy was Woensdag laatmiddag op pad vanaf Klerksdorp na Potchefstroom toe sy in klippe op die N12 vasgery het.

“Sy ry elke oggend tussen 04:00 en 06:00 werk toe en moes gisteroggend omdraai en ‘n ander pad vat weens die protes. Op pad terug het sy weer die N12 geneem omdat dit oral op sosiale media gesê het die pad is weer oop.”

Hansie sê hy het gesien dit word laat en net toe hy dit besef, kry hy ‘n histeriese oproep van Michelle af.

“Sy het die klippe omtrent 100m vanaf waar die polisie gestaan het, getref. Niemand het haar kom help nie. Hoe sy nie die kar gerol het nie, is net die Here se genade. Sy moes vrou alleen voor Ikageng staan. Alle hel sou los gewees het as sy iets moes oorkom. Die SAPS het niks gedoen nie. Hulle moes tog gesien het daar is klippe in die pad of dat iemand besig is om klippe in die pad te rol. Wat het geword van beskerm en dien?”

Hansie vertel sy seun het uitgejaag om sy ma te gaan help en haar voertuig in te sleep.

“Daar is ‘n gat in die enjin geslaan. Al die olie het uitgeloop. Die kar se alarm het sonder ophou begin skree. My vrou is steeds in skok na die hele situasie.”

Hansie en Michelle het ‘n saak van sakebeskadiging en poging tot moord oopgemaak.

Die motor se beskadigde enjin.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button