Potchefstroom danser skitter in Los Angeles

Mékayla-Grace Groenewald het merkwaardige sukses behaal by die World Championship of Performing Arts (WCOPA) in Los Angeles, waar sy ses goue medaljes, vier silwer medaljes en twee Division Champion titels verwerf het, wat Potchefstroom en Suid-Afrika trots maak.

‘n Potchefstroomse danser, Mékayla-Grace Groenewald het onlangs Suid-Afrika se vlag hoog laat wapper by die World Championship of Performing Arts (WCOPA) in Los Angeles. Hierdie uiters talentvolle jong danser het ‘n verstommende prestasie behaal deur ses goue en vier silwer medaljes te verower, sowel as twee Division Champion-titels, wat haar as die beste in haar ouderdomsgroep bekroon het.

Die kompetisie het deelnemers van 47 lande gelok, met duisende dansers wat hul vaardighede ten toon gestel het. Mékayla se uitsonderlike talent en toewyding het haar ook ‘n plek in die prestigeryke Showcase besorg, ‘n finale vertoning wat slegs ‘n paar uitgesoekte deelnemers insluit. Hierdie vertoning is op ‘n wêreldstandaard verhoog aangebied en was ‘n spraakmakende gebeurtenis.

“Ek is so trots om my land en Potchefstroom te kon verteenwoordig,” het Mékayla gesê. “Die ervaring was ongelooflik, en ek het soveel geleer en as ‘n kunstenaar gegroei”

Haar ma, Marnéll Groenewald, was ewe trots en vol lof vir haar dogter se prestasies. “Mékayla het so hard gewerk vir hierdie oomblik, en om te sien hoe sy sukses behaal op ‘n internasionale verhoog is ‘n droom wat waar geword het. Haar toewyding en passie vir dans is werklik inspirerend,” het sy gesê.

Die verhoog was werklik iets besonders en die kwaliteit van die optredes was van die hoogste standaard. Mékayla se deelname en prestasies het nie net haar eie droom verwesenlik nie, maar het ook ‘n bron van trots geword vir haar gemeenskap in Potchefstroom. Haar sukses by die WCOPA is ‘n bewys van wat harde werk en toewyding kan bereik en dien as inspirasie vir ander jong kunstenaars om hul drome na te streef.

Exit mobile version