NewsNews

NWU student onskuldig op 4 uit 5 klagtes

Christie is 'n opgeskorte vonnis opgelê.

Ontwrigting van ’n universiteitsprogram – dít is uiteindelik al waaraan Shaun Christie, ’n regstudent in sy finale jaar aan die Noordwes-Universiteit, onlangs skuldig bevind was.

Christie is ‘n opgeskorte vonnis opgelê. Hy is vir ses maande geskors, opgeskort vir ses maande.

Hy is in Januarie vanjaar geskors weens openbare beswaar wat hy oor die inhoud van ’n oriënteringsessie gemaak het. Hy is later van die ontwrigting van ’n universiteitsprogram aangekla; dat hy haatspraak gepleeg het; die regte van die spreker van die betrokke sessie, geskend het; homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP +-gemeenskap; en dat hy valse uitlatings rakende die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het.

AfriForum Jeug, wat Christie tydens die verhoor met regsverteenwoordiging bygestaan het, beskou die uitkoms as positief, maar benadruk dat die organisasie intussen gereedmaak om aanstaande jaar ’n waghondrol in te neem by universiteite se oriëntasieprogramme.

“Ons is onder die omstandighede baie tevrede met die uitspraak,” sê Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder. “Die klagstaat teen Christie was swaar gelaai en wek kommer oor universiteitsbestuur se misbruik van mag en viktimisering van studente wat opstaan teen ongeregtigheid. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word om dié onreg uit te roei, maar die uitkoms van Christie se saak, is reeds ’n stap in die regte rigting.”

Christie het AfriForum Jeug en die regspan van Hurter & Spies vir hul steun bedank. “Dankie dat julle in hierdie saak geglo het. Dankie dat julle die jeug se stem beskerm en ons bemagtig om op te staan vir wat reg is sonder om geïntimideer te word deur dreigemente,” het hy gesê.

AfriForum Jeug het hom daarom nou daartoe verbind om die oriëntasieprogramme aan openbare universiteite te monitor om diskriminasie in die keuring van organisasies of individue vir deelname aan die program te verhoed.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het die uitslag van die dissiplinêre proses bevestig.

Related Articles

 
Back to top button