Local newsNewsNews

Video: Noordwes se top matriek vertel meer oor sy roete na sukses

Die kleure van ‘n reënboog was een van die verskeie sleutels tot sukses vir Wian Landman (18), Potchefstroom Gimnasium se Dux-leerder en die top matrikulant in Noordwes.

Die kleure van ‘n reënboog was een van die verskeie sleutels tot sukses vir Wian Landman (18), Potchefstroom Gimnasium se Dux-leerder en die top matrikulant in Noordwes.

Kyk die video hier:

Wian, wat met ‘n persentasie van 94 persent en sewe onderskeidings spog, sou sy leerwerk in die volgorde van ‘n reënboog (rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo, pers) merk en sodoende sal hy makliker onthou het en kon visualiseer wanneer hy konsepte en idees tydens sy eksamens moet herroep.

“Dit is iets wat beslis vir my werk en dit maak sin, want dan raak ‘n mens nie deurmekaar met wat waar staan en hoe alles inpas nie,” vertel Wian blinkoog.

Wian Landman het ‘n groot liefde vir wiskunde en akademie, maar geniet dit ook om hokkieballe te keer as doelwagter vir Gimmies se eerste span. Foto: Wouter Pienaar

Hy het die eer vir die beste matrikulant op Vrydag, 19 Januarie ontvang, tydens die Noordwes Departement van Onderwys se spesiale gala-funksie vir die top matrieks van 2023.“Dit was vir my ‘n groot verrassing. Ek het nie geweet wat gaan gebeur nie. Dit was vir my ‘n ongelooflike ervaring toe ek my naam hoor,” vertel Wian wat onder andere ‘n skootrekenaar, as prys ontvang het.

Wian behaal ‘n verstommende 98% vir Wiskunde, IT, en Lewensoriëntering. Verder behaal hy onderskeidings in Afrikaans (88%), Engels Eerste Addisionele Taal (89%), Rekeningkunde (97%) en Fisiese Wetenskap (95%).

“Ek hou baie van syfers en het al van jongs af Kumon-wiskunde gedoen. Wiskunde was nog altyd vir my baie lekker,” noem Wian wat vanjaar tot en met die tweede kwartaal 100% vir wiskunde gehad het.

Wian volg nou ook in sy ouer broer, Martin se voetspore en gaan presies dieselfde graad, B.Sc in Aktuariële Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit, studeer. Martin het ook in 2020 by Gimmies sewe onderskeidings behaal.

“Ek kyk baie op na my broer en hy en my ouers inspireer my. My ouers (Ilze en Willie) noem altyd dat harde werk beloon word en ek glo daarin. Dit gaan oor daardie ekstra moeite insit.”

Buiten die akademie beaam Wian dat dit belangrik is om balans te handhaaf. Om sy kop uit die boeke te kry, was hy meer as gereeld of op die hokkieveld of agter sy rekenaar besig om rekenaarspeletjies soos Rocket League te speel of saam met sy maats op Discord te gesels.

“Hokkie is een van my groot passies en ek het baie ure ingesit. My broer het begin hokkie speel op laerskool en toe begin ek ook,” vertel Wian wat as doelwagter vir die eerste hokkiespan die afgelope paar jaar uitgeblink het.

As daar genoeg tyd is sal hy steeds wil hokkie speel, maar vir nou is sy fokus eers op sy akademie en die nuwe fase in sy lewe op universiteit.

“My akademie het nog altyd eerste gekom. My ma was nog altyd goed om my met my beplanning te help, terwyl my pa baie goed is met keuses maak en my daarin ondersteun. Altwee speel ‘n groot rol in my sukses.”

Buiten sy gesin, sonder Wian sy meisie, Nadia Gouws, ook uit as ‘n groot steunpilaar in sy matriekjaar. Nadia, ook ‘n matrikulant aan Potchefstroom Gimnasium, het self sewe onderskeidings behaal.

Boonop het sy viervoetige familielid, ‘n kat Lizzy (7), hom ook in studietye emosioneel ondersteun.

“Lizzy leef behoorlik in my kamer. As ek studeer het, was sy daar,” glimlag hy terwyl sy hom liefdevol aankyk.

Wian Landman saam met ‘n troeteldier na aan sy hart, sy kat Lizzy.

Verdere sleutels tot Wian se sukses is om vroeg te begin leer en nie alles te wil indruk nie.

“Matriek kan nogal stresvol raak, so dit is belangrik om soveel as moontlik in die klas ook op te let, huiswerk te doen, saam met jou onderwysers ‘n pad te stap en ook nie bang te wees om daar waar mens sukkel te verbeter nie. As ek met ‘n vraag sukkel, sou ek dit neerskryf en seker maak ek kom terug na dit in my leerwerk. Dit is belangrik om juis die moeilike aspekte te kan verbeter en reg te kry.”

Nou is die pad oop vir Wian om nog sukses in sy nuwe hoofstuk as student te behaal – met sy werksetiek en liefde vir leer is hy doelgerig.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button